Die polisie het vandeesweek 30 onwettige immigrante in Johannesburg in hegtenis geneem tydens ʼn misdaadvoorkomingsoperasie by vier van dié stad se sogenaamde “gekaapte geboue” waar misdaad hoogty vier.
Die Stad Johannesburg het in ʼn verklaring gesê 30 buitelanders sonder dokumentasie is tydens dié operasie vasgetrek. Al 30 persone het Vrydag in die Johannesburgse landdroshof verskyn en is steeds in polisieaanhouding.
Volgens die verklaring is die Miltherd Court-gebou, twee geboue in Commissionerstraat en ʼn gebou in City and Surburban, ʼn Johannesburgse buurt, geteiken.
Gekaapte eiendomme is een van die stad se grootste uitdagings weens oorbevolking. Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, het egter voorheen beloof om dié kwessie die stryd aan te sê.
Volgens die verklaring word sowat 164 geboue in Kaapstad deur dié misdaad geteiken.
Sinethemba Mkhumbuzi (43), een van die grootkoppe wat dié kapings in Johannesburg “lei”, is Woensdag saam met Kenneth Ntila (58) onderskeidelik tot agt en vyf jaar tronkstraf gevonnis in verband met die kaping van die Angus Mansions in die middestad.
Volgens die stad is 11 voorheen gekaapte geboue onlangs aan hul regmatige eienaars terugbesorg.
30? NET 30? Nou wat nou van die ander 3 999 970? Wanneer gaan julle hulle arresteer?
Is julle seker is 164 geboue is in Kaapstad??