300 skole, 5 hospitale geraak deur KZN-storm

Die N2-hoofweg is oorstroom (Foto: ANA)

Bykans 300 skole in die KwaZulu-Natal-omgewing moes as voorsorgmaatreël vir veiligheid noodgedwonge hul deure sluit weens ʼn verwoestende storm wat in dié provinsie woed.

Volgens berigte is daar reeds drie sterftes weens dié storm aangemeld.

Die IPSS-nooddienste het in ʼn verklaring gesê ʼn kleuter word ook sedert Dinsdagmiddag vermis nadat hy glo meegesleur is deur ʼn blitsvloed in Umlazi. IPSS en ER24 is steeds in die omgewing op soek na die kleuter.

Die metropolisie in KwaZulu-Natal het Dinsdagmiddag gesê die rede vir die oorstroomde N2-hoofweg is ʼn rivierbank wat te midde van die storm oorstroom het. Talle inwoners van die provinsie was genoop om hul motors in die oorstromings agter te laat soos wat die stormsterkwater die pad oorstroom het.

Volgens eThekwini-munisipaliteit is die N2 egter intussen weer vir verkeer oopgestel. Dié munisipaliteit het inwoners egter Dinsdag steeds gemaan om binnenshuis te bly tot die storm verby is. Volgens die munisipaliteit word winde van tot 70 km/h waargeneem en is alle paaie in die suidelike dele van Durban gesluit. Hy het ook gesê hy werk hard daaraan om die elektrisiteit van groot dele in Durban te herstel wat weens die storm afgesny is.

Sam Mkhwanazi, woordvoerder van die provinsiale departement van gesondheid, het gesê die storms het minstens vyf hospitale in die omgewing nadelig beïnvloed. Dié hospitale is onder meer die King Edward-, Addington-, King Dinuzulu-, Wenworth- en Prince Mshiyeni Memorial-hospitale.

Paramedici van Rescue Care het motoriste intussen gewaarsku om die suidelike dele van Durban te vermy. Veral Amanzimtoti is erg deur dié storm geraak.

Tozi Mthethwa, woordvoerder van die eThekwini-munisipaliteit, het gesê mense moet waaksaam wees om te midde van die storm in enige plek te bestuur of te loop. Sy het gesê die stormsterkwinde en -waters hou groot gevare in.

Sig op die paaie is intussen ook erg belemmer weens die reën en sterk winde. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat nog reën vir die res van die week in KwaZulu-Natal verwag word.

Intussen het Andrew Kirby, uitvoerende hoof van Toyota South Motors, bevestig dat dié motorvervaardiger erge skade gelei het weens die storm by sy aanleg in Prospecton in KwaZulu-Natal. Kirby het gesê talle van die maatskappy se geboue, toerusting en motors het in die slag gebly.

Die versekeringsmaatskappy Outsurance het sy lede Dinsdagmiddag in kennis gestel dat hul operateurs tot tyd en wyl tussen 07:00 en 20:00 beskikbaar sal wees en dat eise die eerste prioriteit sal kry.

Foto: Twitter

Foto: Twitter

Foto: Twitter

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

John ·

Hoekom noem ons dit nie maar by sy naam, ‘n sikloon, nie. Die Weerburo toon ‘n kolkende wolkemassa oor die see en land maar praat bloot net van ‘n storm. Is dit net by die VSA en -buurlande waar siklone voorkom? En in die binneland is geweldige skade aangerig en tog heet dit bloot ‘n mini-tornado…. Die SA-weerburo is nog ‘n instansies, mens voel bang om dit te se, wat skynbaar laas voor 1994 opgegradeer is en oumodies raak tov voorspellings. Indien die diens beter inligting verskaf het, was daar minder skade en lewensverlies.

Asjas ·

Kon die skade nie ook minder gewees het as infrastruktuur beter onderhou was nie? Bv. Baie van die bome wat erg skade veroorsaak het in Delmas was jare laas gesnoei, dood of beskadig in veldbrande en moes dalk verwyder word. Wel natuur het nou daarvoor gesorg. Vloei water weg soos dit behoort? Is ons snelwee op standard? As bou inspekteurs so streng was op onformele nedersettings as op dorpenaars kon minder sinkplate soos stukkies foelie rond waai …
Eerlike vrae, nie sarkasme nie.

dries du toit ·

Kan julle asb vir ons reenval syfers verskaf wat gister geval het in KZN?Ek vra mooi

dries du toit ·

Kan iemand dalk reenval syfers verskaf vir gister in KZN asb.

Liezl ·

Dries, hulle het vanoggend op die radio gesê omtrent 100mm?

Lynette ·

Gisteraand op Kyknet se 19h00 nuus was syfers vir verskillende dele in Natal gewys en daar was een plek wat 222ml gekry het. Ek onthou egter nie die naam want ek het pleknaam nie geken niem

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.