31 vas ná betogings by NMMU

NMMU-studente betoog Woensdag, 22 Sept. 2016. Foto: ANA

NMMU-studente betoog Woensdag, 22 Sept. 2016. Foto: ANA

Minstens 31 mense is Woensdag op die kampus van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) in Port Elizabeth in hegtenis geneem nadat #FeesMustFall-betogers weer eens met polisiebeamptes gebots het.

Brig. Sally de Beer, nasionale woordvoerder van die polisie, het gesê teen 15:00 is 31 studente in hegtenis geneem, maar nog inhegtenisnemings is moontlik. De Beer het gesê die studente is almal tussen 19 en 30 jaar oud.

Die universiteit het gesê daar was vandag verskeie voorvalle van gewelddadige betogings op die suidelike en noordelike kampusse. Op die Suid-kampus het studente die Embizweni-hoofgebou beset en personeel in hul kantore geïntimideer. Hulle het ook klasse ontwrig. Nadat die polisie die groot groep betogers uitmekaargejaag het, het hulle in kleiner groepe opgebreek en op verskillende dele van die kampus personeellede en ander studente gedreig.

Volgens De Beer het die studente SAPD-lede met klippe bestook. “Die SAPD doen ʼn beroep op studente, studenteleiers en ander rolspelers om binne die grense van die wet op te tree en hul demokratiese reg tot protesaksie vreedsaam uit te voer,” het De Beer gesê.

Intussen het NMMU in ʼn verklaring gesê die universiteit het vier weke afgestaan om met verskillende studentegroepe oor hul eise te praat in ʼn poging om die akademiese program weer op dreef te kry. Volgens die universiteit het die studente ses eise aan hulle gestel, waarvan hulle aan vier kon voldoen.

“Twee van die eise kon nie toegestaan word nie. Die een is gratis, gedekolonialiseerde en kwaliteit tersiêre onderrig landswyd. Die NMMU kan nie aan hierdie eis voldoen nie, aangesien dit ʼn nasionale kwessie is, maar ons het ingestem om ons hulpbronne beskikbaar te stel om hopelik nasionaal by te dra tot hierdie ideaal,” lui die verklaring.

“Die tweede eis is die vrywaring van alle skuld van studente wat kwalifiseer vir skuld- en afbetalingverligting in 2016. Die instansie het onderneem om saam met studente te werk om ʼn oplossing vir skuldbetalings te vind en het reeds studenteverteenwoordigers genooi om by ʼn taakspan aan te sluit wat sal poog om volhoubare oplossings vir studenteskuld te vind.”

Die universiteit het gesê nadat daar op die bogenoemde besluite rakende die studente se eise ooreengekom is, is daar besluit dat die akademiese program hierdie week ten volle hervat sal word. “Daar is daarom geen rede waarom die huidige ontwrigtings moet gebeur nie. Die universiteit het reeds ʼn hofinterdik bekom wat studente toelaat om vreedsaam in gespesifiseerde areas te betoog, terwyl ander studente toegelaat word om hul klasse by te woon.”

Die universiteit het gesê hy het reeds ʼn bemiddelingsproses aan die gang gesit om weer met die betogende studente te vergader.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Lance ·

Al SO boring …gaap hulle is ook seker al weer op vrye voet

Riaan ·

Studente behoort normaalweg tussen 18 tot 21/22 jaar oud te wees,wat maak 30/32 jarige daar,hulle moet mos op daai ouderdom al lankal klaar gestudeeer het en n werk en gesin te hé

M ·

Ja wat soek hul daar. Waar was die sekuriteit dat hul nie die betogers gestop of hulp ontbied toe hul sien hul dra en sleep asblikke vol klippe om die polisie mee te stook nie…kop in een mis. En die polisie moet die betogers nie met water spuit maar met n middel wat hul.klere,vel en hare vlek….nie permanent maar eers na n paar dae se ordentlike skrop eers uitwas so kan hul die hele vrot kol/gespuis uitken en d swak element verwyder en hoef hul nie met fotos rond te loop opsoek na diegene wat hul aan wan gedrag,geweld en kriminele oortredinge skuldig gemaak het nie. Die swak elemente is gekwes en kan duidelik uitgeken word.

M ·

30 hopeloos te oud v n voltydse student. Waar was nmu se sekuriteit toe die betogers al voordag .die.asblikke vol klilpe op d kampus in/rond gedra het. Hoekom het hul,hul nie gestop of tenminste die polisie laat weet en hulp ontbied nie. Die polisie moet die hele betogers gespuis wat geweldadig optree nie met water kanonne skiet nie maar met iets wat hul klere,hare en vel op aanraking lelik vlek en eers na so 10 ordentlike skrop sessies van al bogenoemde verwyder kan word….so kan hul maklik uitgeken word en hoef daar nie met fotos rondgeloop word opsoek na hulle nie.

M ·

Net n klein groepie betogers by die verskillende instansies en ons polisie en weermag kan hulle nie beheer niePATETIES.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.