32-jarige vermoor glo drie polisiebeamptes

(Argieffoto ter illustrasie: Marcus Trapp/pixabay)

’n 32-jarige man staan tereg op aanklag van die moord van drie polisiebeamptes in KwaZulu-Natal.

Dié verdagte word ook van die besit van ’n onwettige vuurwapen en skerp ammunisie sowel as gewapende roof aangekla.

Hy het Maandag in die Mtubatuba-landdroshof verskyn en kom Dinsdag in die Esikhaleni-landdroshof voor.

Volgens kapt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder vir die Valke, is sers. Nkosinathi Ngcobo (41) van Richardsbaai na bewering op 27 Augustus vanjaar doodgeskiet en van sy vuurwapen beroof.

Ngcobo was glo op pad om ’n kollega in Port Dunford op te laai toe die voorval plaasgevind het.

Die moordverdagte het saam met sy medepligtiges van die toneel gevlug en die saak is vir verdere ondersoek aan die Valke oorhandig.

Drie dae ná die moord op Ngcobo is twee verkeersinspekteurs, Sizwe Sithole (49) and Mxolisi Lamula (35), ook deur onbekende verdagtes doodgeskiet en van hul wapens en ammunisie beroof.

Hulle was besig om die Mtubatuba-gebied naby Nkodibe te patrolleer.

Mhlongo sê inligting wat aan die polisie verskaf is, het Vrydag tot die inhegtenisneming van twee van die verdagtes, onderskeidelik 28 en 29 jaar oud, in Mtubatuba en KwaMsane gelei.

“Die verdagtes is met ’n ongelisensieerde vuurwapen en skerp ammunisie in hul besit betrap en gevolglik aangekla. Hulle het Maandag in die KwaMsane-landdroshof verskyn.

“Hulle inhegtenisneming het die polisie na die moordverdagte gelei, wat van al drie moorde sowel as die rooftogte aangekla is. Ook hy was in besit van ’n onwettige vuurwapen en skerp ammunisie.”

Mhlongo sê die vuurwapens sal binnekort vir ballistiese toetse gestuur word en dat meer inhegtenisnemings binnekort kan volg.

Maroela Media het vroeër berig dat 38 polisiebeamptes binne agt maande in Suid-Afrika om die lewe gebring is.

Dit beteken dat minstens een polisiebeampte elke week in die land vermoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Persheks Adri ·

SAPS se wapens word maklik gevat! Sien Cele, ons het beheer oor ons wapens en ammunisie en is verantwoordelike burgers, maar jy wil ons ontwapen. As jou DNS agterstand so ver agter is wonder ek of jy ballistiese toetse kan doen. Ek wonder….

Nie Verbaas ·

Seker maar soos skerp punt ammunisie of die ou wat dit gemaak het is skerp.

Persheks Adri ·

Ai Werner die mense vang nie jou sarkasme nie! Moet skerp punt wees soos jou jag gewere se ammunisie

Bosvelder ·

Die voorpunt van die koeël is skerp. Jy kry ammunisie waar die voorpunt nie skerp is nie – dit is die “hollow points”. Dit hang af wat jy wil skiet en hoe akkuraat jy wil skiet oor sekere afstande. Skerp punt beweek vinniger deur die lug (minder weerstand) en is baie meer akkuraat. Die hollow points is groot trefkrag op korter afstande. Hoop dit help.

Misky ·

Malema het mos in die openbaar gesê sy lede sal polisielede selfs in hul huise aanval. So Cele moenie nou verbaas wees as getalle bekend gemaak word nie

JM ·

Land van moord en doodslag! Is om van naar te word en Bheki Cele is steeds in sy pos. Hou op praat en DOEN iets daadwerkliks Cele!!

Persheks Adri ·

Stem! Ons gaan lank wag vir hoedeman JM moet nie op hom staatmaak nie

Wielspore ·

Die een sin in die berig moet lees, “Die verdagtes is met ’n ongelisensieerde vuurwapen en skerp punt ammunisie in hul besit betrap en gevolglik aangekla”
Die woord “punt” is uitgelaat.

Persheks Adri ·

Hy gaan ons vertel hoe geskok hy is Hennie en dat daar swaarder strawwe vir die moordenaars gegee moet word gggmmmfff

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.