337 nou al dood weens Zuma-onluste

‘n Buitelander se winkel in White City in Soweto word geplunder. Foto: Matthews Baloyi/ANA

Wydverspreide onluste wat verlede week in dele van KwaZulu-Natal en Gauteng gewoed het, het nou al die lewe van 337 mense geëis.

Só het Khumbudzo Ntshavheni, minister in die presidensie, Donderdag gesê.

“Die getal sterftes staan nou op 79 in Gauteng en 276 in KwaZulu-Natal.”

Volgens Ntshavheni kan bykomende sterftes toegeskryf word aan mense wat tydens die onluste beseer is en intussen aan hul wonde beswyk het. Volgens Ntshavheni word 42 sake van moord in Gauteng en 171 sake van moord in KwaZulu-Natal in verband met dié sterftes ondersoek. Altesaam 132 gevalle van brandstigting word ook deur die polisie in KwaZulu-Natal ondersoek.

Wydverspreide geweld, plundering en vandalisme het sedert voorverlede naweek in dié twee provinsies uitgebreek, kort nadat oudpres. Jacob Zuma hom by ʼn tronk in Estcourt, KwaZulu-Natal, oorgegee het. Hy dien tans tronkstraf van 15 maande uit vir minagting van die hof.

Sedert troepe van die Suid-Afrikaanse weermag ontplooi is om die polisie by te staan, het onluste grotendeels gestabiliseer. Die N3- én N2-hoofweg is ook sedertdien oopgestel en het Donderdag oopgebly. Geen nuwe voorvalle van geweld wat met onluste verband hou, is Donderdag aangemeld nie.

Die minister het Woensdag gesê voedsel is ook nou weer geredelik beskikbaar in geraakte gebiede.

Volgens die minister is daar nog geen verdere verwikkelinge wat betref die inhegtenisneming van beweerde aanhitsers nie. Maroela Media het Dinsdag berig dat ses “sleutelinhegtenisnemings” reeds in dié verband gedoen is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Peter ·

hierdie tragedie laat die soweto dag sterftes soos n nietigheid lyk
dalk moet hulle dit nou National looters day herdoop

Snowball ·

Nee, ons slim regering werk aan iets BIG vir our people, baie beter as vakansiedae – die Basic Income Grant is op hande – bedrae van 1200+ vir 13miljoen mense word genoem. Nou kyk, so gekkig as wat dit klink, gaan iets hiervan realiseer. Waar hulle dít gaan uitkrap weet nugter, maar meer belasting is seker een van die opsies. Die ou belastingkoei staan nog beswaarlik maar melk gaan hulle melk. Ek voorsien nog hordes se oë het oopgegaan na dese kapperjolle van our people. Ek hoor hoe klap die koffertjies toe soos die wat kán, reeds landuit skarrel.

Marius ·

Saps kyk hier is nog baie gesiggies, wat ek net nie vertaan daar word geplunder met 1 hand en andar hand staan bak en vra help asb nee my kop is te plat om dit te verstaan

Willem ·

Begin by ace,jz,julias,dz,ez en hul suster en sluit almal toe.Maar polisie te slapgat om skuldiges te arresteer!!!!

Nie Verbaas ·

Klink of aanhitsers alweer met handskoene hanteer word.

Kokerboom ·

Hierdie kan weer gebeur! Die wêreld neem kennis . Pleisters word geplak op wond maar kernprobleem van sosio-ekonomiese gebreke (danksy ANC regime) bly en word nie aangespreek!!

MakersMark ·

Soweto day 176
Sharpville 69
KZN (2021, 27 j na ANC bewind) 337 and counting……

Hennie J ·

Hierdie sogenaamde 12 “kingpins” is net n rookskerm. Nie een van die klompie wat reeds bekend gemaak is verteenwoordig iets nie. As die regering wil se hierdie 12 is die wortel van alle kwaad, dan vreet ek cele se hoed op.

piper ·

dit is nie die finale totaal sterftes nie. daar gaan nog heelwat uitkom.

pompies ·

Ek wonder nou het Zuma toestemming gekry om sy broer se begrafnis te gaan bywoon? Indien hy dit gekry het dan sal hy n lekker aanhitsing toespraak weer maak en dan begin dit van vooraf. Hy moet weet elke dood is bloed aan sy hande.

Anton ·

Marius ek voel ook soos jy,een dag roof en brand hulle die land die volgende dag kom vra hulle of hulle kan op ruim ,dan vra hulle kos en betaling vir skoonmaak.Dan word daar op ons gevoelens gespeel om geld en kos te skenk,want hulle het nie kos nie,en dat hulle nou ver moet gaan om kos te koop en hulle het nie geld om so ver te ry nie,maar die plek wat loop afstand van hulle af was het hulle verwoes. ek verstaan nie,iemand moet verduidelik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.