34 Kaapse skole in vakansie besteel

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Jake Noren/Unsplash)

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het Woensdag gesê dat 34 skole oor die afgelope skoolvakansie besteel of gevandaliseer is.

Volgens Kerry Mauchline, woordvoerder, is altesame 41 voorvalle van inbrake en vandalisme in Desember 2021 en Januarie 2022 aangemeld. Die meeste hiervan was gering terwyl twee voorvalle meer ernstig van aard was.

“Dit is ’n aansienlike afname in vergelyking met die 59 voorvalle wat in die Desember 2020/Januarie 2021-vakansie aangemeld is (met inagneming dat die 2020-’21-vakansie baie langer was), maar dit bly nietemin ’n ernstige bekommernis.”

Items wat tydens die jongste voorval gesteel is, sluit in IT- en oudiovisuele toerusting, elektriese kabels en toebehore, heinings, waterpype, ablusietoebehore, lugversorgingseenhede, petroltenks, skryfbehoeftes, kombuistoerusting, Covid-19-veiligheidsvoorrade, fietse en werkswinkelgereedskap.

Daar was ook voorvalle van vandalisme, veral die breek van vensters, asook skade aan skoolgeboue tydens inbrake.

Volgens Mauchline word die totale koste van herstelwerk en die vervanging van gesteelde eiendom nog bereken.

“Dit plaas ʼn verdere finansiële las op die departement én op skole, wat nie een van die twee kan bekostig nie.

“Die departement het sekuriteit aan 477 skole tydens die vakansietyperk verskaf, maar in sommige gevalle kon selfs sekerheidswagte en veiligheidskameras nie vasberade misdadigers stuit nie.”

Die departement het opnuut ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om enige verdagte aktiwiteite by ʼn skool op die Veilige Skole-noodnommer (080 045 4647) aan te meld.

“Gemeenskappe moenie hul vermoë onderskat om die polisie te help om misdadigers uit te vang, te ondersoek en in hegtenis te neem nie. Die publiek is ons oë en ore op die grond. Selfs die geringste brokkie inligting kan waardevol wees.

“Iewers weet iemand wie hierdie oortreders is. Ons moedig hulle aan om die regte ding te doen en met inligting na vore te kom sodat die oortreders aan die pen kan ry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Ek verwag niks minder van ons mense nie, dit is elke vakansie se storie

Di ·

Ja wel dis ‘n algemene ding in SA vandat die ANC regering oorgeneem het. Hulle maak net soos die ANC Kaders, verwoes alles

Dup ·

Gaan al hierdie geweldadige en kriminele dade ooit ophou?…..ek dink nie so nie.Wetteloosheid is aan die orde van dag omdat ons polisie nie almal opgewasse is vir die taak nie.Dan is sommiges nog deel van die probleem ook.

Kokerboom ·

Gemeenskappe MOET verantwoordelikheid vir hul eie skole aanvaar!!

Anel ·

Begin by die wat die skool ken. Dis gewoonlik iemand wat presies weet wat en waar by die skole is. Kyk maar.

Casper ·

En dan kla hulle skole is nie toegerus met hulpmiddele nie en die skole is in vervalwant fellow south Africana weet die skade sal herstel word en hulpmiddele vervang word.Dit gaan ook seker die rede wees hoekom kinders druip.

Swerwer ·

Dit is mos niks nuuts nie. Wetteloosheid en privatisering is mos bo aan die ANC se daaglikse lewensstyl.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.