34 vas vir dronkbestuur, 25 vas vir spoed

Argieffoto: Departement van verkeersveiligheid

Terwyl duisende motoriste die naweek die land se paaie deurkruis het na en van hul Paasnaweekbestemmings, het wetstoepassers met mening toegeslaan op jaagduiwels en ander padoortreders.

In Ekurhuleni aan die Gautengse Oos-Rand is 34 bestuurders tussen Donderdagaand en Sondagoggend vir dronkbestuur in hegtenis geneem.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni Metropolisie (EMPD), sê 11 mense is Donderdag en Vrydag in Tsakane vir dronk bestuur in hegtenis geneem, nog 20 is Saterdag in Daveyton vasgetrek en nog drie motoriste onder die invloed van alkohol is Sondagoggend in KwaThema in hegtenis geneem.

“Daar is ook twee verdagtes in Putfontein in Benoni in hegtenis geneem nadat vervalste geldnote in hul besit gevind is, nog een is in Daveyton in hegtenis geneem vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en nog ʼn verdagte is vasgetrek in verband met gewapende roof,” sê Kgasago.

Boonop is nóg 25 spoedoortreders tussen Vrydag en Sondag in Ekurhuleni in hegtenis geneem.

Volgens Kgasago is sewe bestuurders, tussen 21 en 56 jaar oud, Vrydag op die N12-Oos in hegtenis geneem nadat hulle tussen 161 km/h en 198 km/h in dié 120 km/h-sone gery het. “Al sewe motoriste is mans, insluitend ʼn pastoor wat beweer het hy is laat vir ʼn kerkdiens,” sê Kgasago. Die sewe is by die Alberton-polisiestasie aangehou, maar is almal later op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Saterdag is nog twee jaagduiwels op die N12-Oos by die Atlas-afrit in hegtenis geneem, en later die middag nog vyf motoriste op die R21-Suid. Sondag is vyf bestuurders op die N3 tussen die Geldenhuys-wisselaar en Rand Lughawe-afrit in hegtenis geneem en nog ses spoedvrate op die N12-Wes. “Een van dié was ʼn motorfietsryer wat ʼn skrikwekkende 229 km/h in ʼn 120 km/h-sone gery het,” sê Kgasago.

Al die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

229? Dis 2km/u vinniger as myne se topspoed….Dit moet iets netjies wees.

Gert van Wierdapark ·

Die jaagduiwels moet deur spesiale mobiele howe gevonnis word en moes dan die naweek in mobiele “tronke” aangehou gewees het = net padvarke saam toegesluit! Hul is potensiele pad-moordenaars wat teen hulself beskerm moet word:”Finish en Klaar”!

Chris Ws ·

Ek hoop die regter slaan daai jaagduiwels HARD want hulle gee duidelik nie ‘n flenter om vir ander motoriste se veiligheid nie en weet ook nie wat met hulle sal gebeur sou ‘n band bars of iets voor hulle in hardloop nie.Op so hoe spoed is mens se reaksietyd nul.Die wet is myle te sag met sulke mense.Voertuig konfiskasie moet ingestel word bo en behalwe baie hoe boetes en met ‘n verpligte tronkstraf van 3 maande.Dan sal mense begin leer dat ‘n voertuig lisensie ‘n vooreg is en nie ‘n reg nie.

Ivan ·

(Op so n hoë spoed is n mens se reaksie tyd nul.
Huh… hoe kom jy by daai som uit.

IK ·

Maklik Ivan, voor jou oë vir jou brein kan laat weet dat jou brein vir jou voet moet sê om die petrolpedaal te los en rem te trap dan is alles reeds laaaankaaal verby. Dit neem sowat 1,5 sekondes voor jy begin rem. Dus is reaksietyd ALLEEN (voor rem trap) se afstand teen 120km/h reeds 50m wat die helfte is van ‘n rugbyveld. Daardie motorfiets teen 229km/h se afstand is 95m voor BEGIN om te rem, bykans die lengte van ‘n rugbyveld. Daar word ook gesê dat reaksietyd so lank as 2 sekondes kan wees.
Chris is dus volkome reg. Jy kan dus dood wees voordat jou brein registreer wat aangaan, jy gaan nie eers weet jy is dood, aardig maar waar . . .

Oortyd ·

Waar is hulle die res van die tyd?. Hoekom wag hulle vir Publieke Vakansiedae om mense aan te keer?. Hulle moet mos 5 dae per week vir 8 ure lank werk?. Hoekom kan hulle nie elke dag van die week so hard wetk nie?. Daar is definetief genoeg idiote op die pad elke dag om aan te keer??

MANIE ·

n persoon wat jaag op n ooppad teen daardie spoed is baie minder gevaarliker as n dronk bestuurder wat teen sestig km/uur ry. Ek sien deesdae hoe bestuurders openlik ry met n bier in die hand. Sluit die dronk bestuurders toe en laat hulle nie borg kry. Dit is al hoe hullle gaan leer om nie te drink en bestuur . Boetes skrik hulle nie af

wet ·

Dit is soos jy se. Almal maak ´n bohaai oor spoed maar geensins dieselfde bohaai oor mense wat gevaarlike U draaie maak nie, teen 60 km/h in ´n 120 km/h sone ry nie, op selfone werk terwyl hulle ry, nie in hulle blindekol kyk nie. Ek dink dit gaan meer oor beginsel saak as wat dit oor ´n veiligheids aspek gaan. Ek bedoel…mens lees hoe die mense altyd se sluit hom toe al is hy die enigste padgebruiker in die middel van die karoo.

Andries ·

Jy ondersteun dus selektiewe wetstoepassing. Is dit omdat jouself soos n mal ding jaag of will jy verduidelik hoekom een ootreding meer strafbaar is as n ander? Kan jy sien hoekom ons land is waar hy is?

Willie ·

Die MRK mag dalk ten gunste van die “slagoffers” besluit. Hoe durf die verkeerspolisie inmeng met hul regte om te drink…!!???

Bietjie baie ·

“Name and shame” hulle doodeenvoudig. Hulle sit anders se lewens in gevaar sonder om te blik of te bloos.
Liewer bang-Jan om gê”name” te word, as om ander se dood te veroorsaak.

George in Bloem. ·

Ek wonder maar net…..hoeveel beamptes is “vas” vir korrupsie? Zero?

Francois le Cochon ·

Die probleem van dronk bestuurders sal altyd met ons wees. Hulle word wel gevang, maar daar gebeur niks met hulle nie. Slegs ‘n boete of bestuurslisensie wat afgevat word,- dan is hulle maar weer op die pad.

Johan ·

Spoed is net n dom verskoning van die regering om jou geld te vat. 229 km is heel maklik en veilig met vandag se moderne voertuie. Weereens die regering wat die melkkoeie wil melk!

Cathy ·

Ek dink jy’s of duidelik sarkasties lol… of erm hoop nie jy’s ernstig nie

Judge Dredd ·

Die probleem is dat ons pad infrastruktuur nie bygehou het nie.

Judge Dredd ·

So uit 100 000+ bestuurders is slegs 34 vir dronkbestuur en 25 vir spoed gevang.

Lyk vir my of SA bestuurders in die algemeen baie wetsgehoorsaam is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.