35 vas ná amok op N12

Argieffoto: SAPD

Altesaam 35 mense is in Hopetown in die Noord-Kaap in hegtenis geneem nadat hulle vroeg Donderdagoggend op ʼn verwoestingstog gegaan het, vermoedelik weens ontevredenheid oor dienslewering.

Brig. Mohale Ramatseba, woordvoerder van die polisie, het gesê betogers het die N12 met brandende bande versper en by plaaslike winkels ingebreek. “Daar is by drie winkels ingebreek en duisende rande se kruideniersware is gesteel. Een van die winkeleienaars se hand is beseer toe hy probeer het om homself te beskerm teen betogers wat hom met voorwerpe bestook het toe hulle sy winkel bestorm het,” het hy gesê.

“Die polisie het ingegryp om die N12 weer oop te stel. Minimale geweld moes gebruik word om die betogers en die mense wat die pad versper het uiteen te jaag. Gedurende die polisie se ingryping het ʼn vrou glo ʼn besering aan haar kop opgedoen en ʼn saak van aanranding is in dié verband by die polisie aanhangig gemaak. Die omstandighede wat tot haar beserings gelei het word nog ondersoek.”

Ramatseba het gesê die 35 verdagtes is in hegtenis geneem op aanklagte van openbare geweld, inbraak en diefstal. Hulle sal binnekort in die plaaslike landdroshof verskyn.

Lt.genl. Risimati Peter Shivuri, provinsiale kommissaris van die polisie in die Noord-Kaap, het die gewelddadige optrede van betogers ten sterkste veroordeel. Hy het beklemtoon hoewel die gemeenskap daarop geregtig is om te betoog, moet dit op vreedsame wyse gedoen word sonder dat mense beseer en eiendom beskadig word.

Ramatseba het gesê ʼn protesoptog wat ook vanoggend deur inwoners van Hartswater gehou is, het vreedsaam en sonder enige voorvalle afgeloop. Die inwoners het ʼn memorandum aan die plaaslike burgemeester oorhandig rakende hul klagtes oor dienslewering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Toekie ·

Aaai!. Wat het van ons Suid Afrika geword? Die een staan behoorlik koponderstebo!!! Niks is meer oordentlik of dieselfde nie!!!

Irma ·

Oral kry dienslewering die skuld terwyl alles wat mense probeer instandhou vernietig word EN dit word demokrasie genoem. So vernietig elke behepte sy omgewing en soos dit uitkring die hele wêreld / aarde waarop ons leef. Sonder respek, sonder begrip, sonder die bereidheid om op te pas en te probeer bou. Lankal geleer om die ‘verwag’ en niks in ruil te gee. Dit lyk nie meer of daar enige stop aan is nie. ‘N vriend wat id buiteland woon sê v ons hulle hoor Suid Afrika is verwagtend. Verwag dat alles v hulle gedoen word.

Cherokee ·

Ja, dienslewering kry die skuld en betogings word dit genoem terwyl dit niks anders is as geweldadige roof, want mense wat voorgee te betoog om dienste te kry waarvoor hulle nie betaal nie, gebruik net die geleentheid om winkels te beroof van voorraad waarvoor betaal is.

3de paragaaf –
‘…..om die betogers en die mense wat die pad versper uiteen te jaag.’
Mense wat die pad versper ìs betogers.

Ben ·

Dienslewering word deur die ANC munispaliteite verskaf. Die winkel eienaar het niks daarmee te doen nie. Hierdie protes aksie is niks anders as kriminele terrorrisme nie. Sit die protesteerders in die tronk. Hulle is kamstig “gedisadvantage”, ons het nie huise verniet van die regering gekry nie – ons voorvaders moes dit bou of ons moet dit by die bank koop. Ons is besig om moeg te word vir al die leuens wat die korrupte ANC, EFF swak leiers aan hulle lede verkondig maar ek voorspel dat as hulle voortgaan hiermee, dat hulle beskaamd voor die res van wereld sal staan. Waar het jy gesien jy is die oorsaak dat meer as honderd mediese pasiente sterf en dan verkies die ANC lede weer vir jou. Waar is hierdie mense se moraal of gesonde verstand? Eish!!

Oom Jaco ·

My mening is dat mense wat die pad versper kriminele is… sodra betogers gewelddadig raak is hulle kriminele, nie meer betogers nie…

Ag asb tog ·

HOE VAS IS DE BETOGERS REGTIG? Hulle word vanoggend gearresteer en die volgende dag weer vrygelaat. Die betogers wat WITS omtrent vernietig en aan die brand gesteek het is almal VRY, die universiteit het hulle weer TOEGELAAT om verder te studeer en hulle selfs om verskoning gevra .. BETOGING/BRANDSTIGTING/
VERNIETIGING in SA dra geen straf nie, jy moet NET nie die k woord noem of iemand skrikmaak in ‘n doodskis wat onwettig op jou grond rondgeloop het nie .. O NEE > dit is ‘n baie groter oortreding en is gestraf met baie jare se tronkstraf plus ‘n siviele eis wat nog hangende is, terwyl hierdie brandstigters wat nie net die mense se eiendom vernietig nie maar ook mense se lewens in gevaar stel MORE WEER VRY OP STRAAT RONDLOOP . .. 586 dockets het verdwyn by die polisiestasies …dink julle regtig ONS dink die polisie of die regstelsel neem betogings/vernietiging/brandstigting ernstig op?? NEEWAT geen vertroue in een van die twee meer nie .. VAS vandag MORE los .. DIE STAAT MOET BEGIN DAGVAAR WORD sodat hulle die polisie en regstelsel tot ANDER INSIGTE kan dwing. Die geld word anyhow uitgemors, dit kan netsowel gaan aan mense wat skade gely het agv betogers.

Groenie ·

Ek dink protesoptogte en anargie moet duidelik gedefiniëer word en daar moet nie met wolhandskoentjies met anargiste gedeel word nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.