36 000 pasiënte wag vir operasies in Gauteng

Die Charlotte Maxeke-hospitaal se nuwe ongevalle-eenheid. (Mei 2022) (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Altesaam 36 237 pasiënte is op waglyste vir operasies by staatshospitale in Gauteng. Van die operasies het ʼn waglys van vyf jaar.

Dié inligting is onthul deur die provinsiale LUR vir gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, in antwoord op ʼn vraag van die Demokratiese Alliansie in die Gautengse wetgewer.

Jack Bloom, die DA se skadu-LUR vir gesondheid, sê Chris Hani Baragwanath het die langste waglys – altesaam 10 900 pasiënte, insluitend 1 777 pasiënte wat vier jaar en vyf maande lank sal moet wag vir heup- en knievervangings.

Ander hospitale met lang waglyste vir operasies, sluit die volgende in:

  • George Mukhari-hospitaal – 5 979 pasiënte
  • Charlotte Maxeke Johannesburg-hospitaal – 3 132 pasiënte
  • Sebokeng-hospitaal – 2 977 pasiënte
  • Mamelodi-hospitaal – 2 570 pasiënte
  • Steve Biko-hospitaal – 1 921 pasiënte
  • Thelle Mogoerane-hospitaal – 1 070 pasiënte
  • Tembisa-hospitaal – 1 023 pasiënte
  • Pholosong-hospitaal – 832 pasiënte
  • Tambo-gedenkhospitaal – 804 pasiënte
  • Leratong-hospitaal – 733 pasiënte
  • Verre Oos-Rand-hospitaal – 708 pasiënte
  • Kalafong-hospitaal – 584 pasiënte

Volgens Bloom is die grootste agterstand vir katarak-operasies met meer as 10 000 pasiënte wat tot twee jaar by Steve Biko- en George Mukhari-hospitale sal moet wag, maar ses maande of minder by Tembisa-, Kalafong-, Pholosong- en Mamelodi-hospitale.

“Die ergste wagtye is vir heup- en knievervangings wat waarskynlik tussen twee en vyf jaar lank sal wees, alhoewel sommige hospitale dit in minder as ʼn jaar kan hanteer.”

Nkomo-Ralehoko het aangevoer die Covid-19-pandemie het die agterstand drasties vererger omdat verkose operasies opgeskort is.

Ander faktore sluit in die vertraging in die aanskaffing van gespesialiseerde masjinerie; vertraging in die opknappingswerk van operasieteaters; die groot uittog van ervare personeel na oorsese lande en na privaat gesondheidsorg; die getal uitlanders; en die vertraging om noodsaaklike poste te vul.

“Beurtkrag het ook ʼn nadelige impak op operasies en ʼn tekort aan linne veroorsaak ook dat operasies gekanselleer word,” voeg Bloom by. “Sommige hospitale het goed gevaar om die agterstand in te haal met operasie-marathonne. Kalafong-hospitaal het hul katarak-agterstand ingehaal deur in Oktober verlede jaar 151 katarak-operasies uit te voer.”

Bloom sê dit is ʼn menslike tragedie dat so baie mense in pyn en lyding moet verkeer terwyl hulle wag vir ʼn operasie. “Alhoewel Covid-19 ʼn terugslag was, is die groot agterstand hoofsaaklik toe te skryf aan onbekwaamheid en korrupsie. Premier Panyaza Lesufi moet dit beskou as ʼn provinsiale krisis wat ʼn plan met voldoende hulpbronne verg.”

Nkomo-Ralehoko het intussen in ʼn verklaring gesê die departement het ʼn program van stapel gestuur om die verskeie uitdagings te takel. “Van die maatreëls is korttermyn en ander sal langer duur. Wat betref beurtkrag, stel die regering reeds ondersoek in na ʼn rits ingrypings, waaronder om gesondheidsorgfasiliteite kwyt te skeld van beurtkrag; om seker te maak die fasiliteite het goeie kragopwekkers; betroubare dieselvoorraad; en die installasie van sonpanele.”

Die LUR sê wat betref die gebrek aan vaardighede, is die departement aggressief besig met werwing. “Ons het die afgelope twee weke advertensies geplaas vir sommige van die noodsaaklike poste. Ek het opdrag gegee dat ons opleidingsplatforms, soos die Gautengse Verpleegkollege en Lebone-noodsorgkollege, na hul opleidingsprogramme sal kyk om seker te maak ons maak die gaping in vaardigheidstekorte kleiner.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johanna ·

Hul Moet minder sit en hoender eet en vinniger werk. Ek het met my oë gesien hoe word daar in die kantoor met voete op lessenaar gesit en eet en klokkies lui. Hul vee hul af aan dit

Chris dupreez ·

Die oorsaak is vertragings van dit en vertragings van dat, vir my is die oorsaak meer die vertraagdes

annie ·

Opgeleide dokters word nie aangestel nie en onbekwame mense word ooreenkomstig velkleur bevoordeel… al word hul eie mense benadeel. Ons moet nie te veel droom oor die sg nasionale gesondheidsorgplan nie. Brittanje wat ‘n soortgelyke sisteem gebruik het ook groot probleme en lang agterstande. Dokters is oorwerk en pasiënte op waglyste sterf weens die lang wag.

Harley Davidson ·

En die groot rede is die euwels van rasisme teen huidige benaadeelde kinders wat gestop word om medies te studeer agv ‘n kwota sisteem gebaseer op velkleur maar daaroor is almal tjoepstil.

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar ons sal aansukkel na die stemlokaal om vir die ANC te stem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.