36 onwettige mynwerkers vas ná geweld  

Foto: Verskaf

Die polisie het 36 onwettige mynwerkers in hegtenis geneem en op vuurwapens beslag gelê ná ʼn gewelddadige botsing tussen twee groepe in Stilfontein in Noordwes.

Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, het gesê die polisie en lede van die taakspan teen onwettige mynbedrywighede is Sondagoggend na die toneel by ʼn mynskag by Stilfontein nadat twee groepe slaags geraak het. Lede van die Valke is toe ook na die toneel ontbied.

Meer as 100 onwettige mynwerkers was glo by die bakleiery betrokke en volgens Mogale is die strydende faksies vermoedelik almal Lesotho-burgers wat baklei vir beheer van sekere areas.

Minstens 36 verdagtes, tussen 20 en 42 jaar oud, is in hegtenis geneem nadat hulle in kleiner groepe opgebreek het by wetstoepassingsbeamptes se aankoms op die toneel.

Een van die verdagtes is geskiet en gewond nadat hy glo nie gehoor gegee het aan ʼn bevel om sy vuurwapen te laat val nie.

Daar is op drie gelaaide AK47’s, ʼn .303-geweer, ʼn pistool en magasyne asook ammunisie beslag gelê.

Die verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Stilfontein-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte insluitend samewering om ʼn misdaad te pleeg en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die verdagtes se status om wettig in die land te wees, word ook ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.