Minstens 425 Clicks-winkels loop deur onder EFF

EFF-lede sing en dans in optog teen Clicks in die Highveld-winkelsentrum in Emalahleni (Foto: EFF Twitter)

Clicks het Maandag gesê hy sal alle nodige stappe doen om die veiligheid en welstand van sy klante en personeel te verseker.

Jorika Moore, skakelbeampte vir Clicks, het gesê minstens 425 van sy winkels is Maandag deur lede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) geteiken. Minstens 51 winkels in die Wes-Kaap, 92 in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap en 302 in Gauteng en elders, moes gesluit word.

Moore het gesê Clicks kan nog nie die omvang van die skade bepaal nie, omdat die gewelddadige betogings voortduur.

ʼn Rasseherrie het vroeër op sosialemediaplatforms losgebars oor ʼn Clicks-advertensie waarin na verskillende vroue se verskillende haarsoorte verwys word. In die advertensie word die byskrifte “frizzy & dull” en “dry & damaged” gebruik by die foto’s van swart vroue se natuurlike hare, terwyl die byskrifte “fine & flat” en “normal” by foto’s van wit vroue se hare gebruik word.

“Clicks veroordeel ten sterkste geweld of enige vorm van intimidasie van sy personeel en klante,” het Moore gesê. “Clicks sal regstappe neem teen oortreders en diegene wat geweld wil aanhits teen ons mense en ons winkels.”

Sy het gesê Clicks verskaf ʼn noodsaaklike gesondheidsorgdiens aan Suid-Afrikaners. “Winkels sal oop bly vir handel en gebeurlikheidsplanne is in plek gestel om die veiligheid van klante en personeel te verseker. Clicks aanvaar volle aanspreeklikheid en het onvoorwaardelik om verskoning gevra vir die advertensie wat op sy webwerf gepubliseer is. Stappe is dadelik gedoen om alle besware aan te spreek,” het Moore bygevoeg.

Clicks monitor steeds die situasie.

Intussen het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê die optrede vandag van EFF-lede teenoor die winkelgroep Clicks met gepaardgaande plundery, brandstigting en vandalisme, is niks anders nie as boewery.

“Die leier van die EFF, Julius Malema, moet persoonlik hiervoor aanspreeklik gehou word, aangesien hy sy ondersteuners op sosiale media aangehits het om die groep se winkels ‘aan te val’,” het Groenewald in ʼn verklaring gesê.

 

In Malema se Twitter-plasings, wat ook in die media verskyn het (EWN 7 September 2020), sê hy onder meer “See you tomorrow. Fellow fighters and ground forces; ATTACK!!!”.

 

“Dit is duidelik dat Malema openbare geweld aangestig het en hy is daarom medepligtig aan die optrede van sy ondersteuners en die skade wat aangerig is. Die gooi van petrolbomme na winkels soos in Witbank, Mpumalanga, grens aan terrorisme en daar moet op die strengste wyse moontlik hierteen opgetree word.”

Groenewald doen ʼn beroep op die winkelgroep om strafregtelike klagte aanhangig te maak teen die oortreders en teen Julius Malema as medepligtige. “Die EFF as organisasie en Malema moet aanspreeklik gehou word vir alle skade wat veroorsaak is en daar moet ook siviele eise teen hulle ingestel word. Suid-Afrika kan dit nie bekostig dat meningsverskille op hierdie wyse opgelos word nie. Indien die EFF die saak op ʼn waardige wyse met Clicks opgeneem het en hul misnoeë oor die betrokke advertensie uitgespreek het, sou hulle ʼn voorbeeld vir almal gestel het oor hoe om op te tree wanneer geskille ontstaan.”

Hy het bygevoeg vandag se optrede grens egter aan anargie en indien almal in Suid-Afrika hul geskille op hierdie wyse probeer besleg sonder enige gevolge, sal dit totale chaos en anargie veroorsaak wat net tot geweld en polarisasie kan lei.

Andrew Whitfield, DA-LP en skaduminister van polisie, het gesê die DA veroordeel ook ten sterkste die EFF se aanhitsing tot geweld en die gevolglike opsetlike saakbeskadiging by Clicks-winkels landswyd.

“Die DA doen ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens om onmiddellik op te tree. Ons sal klagtes van aanhitsing tot geweld en opsetlike saakbeskadiging aanhangig maak teen die EFF en spesifiek die party se leierskap wat laat weet het hulle verwelkom plunderaars by sekere winkelsentrums.”

Whitfield het gesê die DA het begrip vir die woede en ontsteltenis wat die advertensie veroorsaak het, maar die EFF se gewelddadige reaksie is onaanvaarbaar en die SAPD het ʼn plig om teen Julius Malema en ander op te tree wat lede aangehits het tot misdadigheid.

“Die DA sal die minister van polisie Bheki Cele en die nasionale polisiekommissaris genl. Khehla Sitole skriftelik versoek om te laat weet watter stappe teen Julius Malema en die EFF se aanhitsing tot geweld gedoen gaan word. Ons kan nooit toelaat dat individue en politieke partye sulke absolute geweld pleeg nie en indien die SAPD versuim om beslissend op te tree, sal hulle hul pligte verontagsaam.”

Whitfield het bygevoeg dit is nie die eerste keer dat Malema en sy kwasi-revolusionêres geweld en vandalisme in die naam van geregtigheid aangehits het nie. “Die EFF se aanhitsing tot geweld en saakbeskadiging het ʼn impak op die bestaan van duisende Clicks-werknemers wat die ergste geraak word deur die verwoesting. Dit is veral kommerwekkend gegewe die onstuimige ekonomiese situasie wat ons tans beleef ná die Covid-19-afsonderingsperiode geleidelik opgehef is.”

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie het in ʼn verklaring gesê hy neem met kommer kennis van die Clicks-advertensie en het op sy eie inisiatief ʼn ondersoek van stapel gestuur. Gushwell Brooks, woordvoerder van die MRK, het gesê die kommissie het ook skriftelik ʼn vergadering met Clicks versoek sodat die winkelgroep die inhoud van die advertensie kan verduidelik.

“Die kommissie neem kennis van ʼn verskoning van Clicks se groepshoof, Vikesh Ramsunder, waarin hy die maatskappy se teleurstelling uitspreek oor die advertensie en om verskoning vra vir enigiemand wat daardeur gekwes is.”

*Die berig is gewysig met nuwe getalle wat Clicks Maandagaand omstreeks 18:30 bekendgemaak het. -Red 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Persheks Adri ·

Dis terrorisme geen twyfel daaraan nie. Wanneer kan ons hulle in oranje pakkies verwag? O ja hy’s bo die wet en sy sake word altyd uit gestel!

MRK en groot hoed gaan NIKS doen nie!

Sakkie ·

Hulle sal nooit oranje pakkies dra nie hulle is die anc se freedom fighters nes dit in zim gegaan het hulle doen vir die regering wat die nie mag doen nie

Persheks Adri ·

Ek mag ook wens Sakkie. Ai, dit maak naar verby om die minste te sê. Ek sal so lekker kry as hy gaan sit

Albert Willem ·

Ja en polisie het geskitter maar net vreedsame betogings kan hulle vinnig optree

capie ·

Vra gerus die politici waar al die moord, roof en verkragtings vandaan kom. Dit is politici wat dit opstook.
Die DA kan vergeet dat die polisie teen malema optree. Die anc weet wat malema weet en sal nooit teen hom optree nie.

Nie Verbaas ·

MRK will vergadering met Clicks he so hulle keur EFF barbarisme goed. Waarom nie vergader met Malema nie en waarom nie klagtes ingedien deur MRK nie? Die land raak net al hoe meer n totale grap in die wereld se oe. Malema sal niks oorkom nie.

Anel ·

Dis wat ek ook sê. MRK meer bekommerd oir simpel advertensie as aanhitsing tot geweld, plundery en anargie. Hulle is ‘n klug waarvoor ons moet betaal.

daniel ·

Die land raak nie n grap nie ,maar is alreeds n groot bankrot grap in die buiteland. EFF MAAK ALTYD DIE VERKEERDE BESLUITE.

Jan ·

Is dit nie die vervaardiger van die produkte en die gebruikers se probleem nie? Hoekom gebruik jy ‘n produk wat “aanstoot” gee?

Jo-Anne ·

Eff ken nie van verskonings nie, hulle ken net van geweld.

Mariana ·

As mens mooi kyk sal jy sien dat die werkers wat benadeel word meesal swart is. Daai man het nie omgegee toe hy bevele uitgedeel het dat sy minions moet amok maak nie. Nee hy is verantwoordelik vir die skade en almal wil weet of hy darem die keer gaan gestraf word of gaan hy ‘n medalje kry?

Paulvj ·

Wat anders kan verwag word van Malema en sy trawante? Hulle ken nie woorde en gedrag soos vrede en volwassenheid nie. Het ook nie selfrespek of eie trots nie en daarom het Malema geen benul van dinge op n beskaafde manier te doen nie. Sy haat vir wittes maak van hom die grootste rasis en onredelikste leier in hierdie land. Hy wend geen poging aan om uit te reik en vrede te bewekstellig nie, maar wil alles met geweld reg maak. Word groot Julius, die lewe gaan verby jou

Francois Le Cochon ·

Hoekom die media weereens gratis publisiteit aan die EFF gee slaan my dronk. Hoekom enigsins oor hulle verslag doen?

twaalfboor ·

ENIGE verskoning om anagie in die land te veroorsaak. Malema praat en die volk volg soos skape. Mens moet maar soortvan breindood wees om so op te tree.

My siening ·

EFF HET NOG NOOIT IN SY BESTAAN IETS POSITIEF VIR DIE LAND GEDOEN NIE. AF BREEK IS HULLE LEUSE!

Adeline ·

totale chaos en anargie – geen wetgewing in die land vir die mal-emma en sy
rooi pet brigade nie – SAPD – kragteloos en die weermag is net ‘n Skim

Pieter ·

Daar gaan niks met mêlêma gebeur nie, die anc is vreeslik in hul skik oor die lawaai sodat mense van die korrupsie kan vergeet. Ek sal altyd bly glo eff werk steed vir anc, hul stout boetie.

Pappa Beer ·

Ek wonder net wasr was die eff se “dapper” leier ten tye van die gemors. Seker lekker veilig en knus in sy huisie agter sy lyfwagte. Lee blikke maak die meeste geraas.

Keelvol ·

Om so oor hare tekeurig gaan spreek boekdele…… se maar net.

pieter ·

Die situasie is sa gaan nie verbeter nie , hoor my lied , dit gaan nog ERGER word.

Zelda ·

Ek hou nie daarvan dat hul sê my hare is fyn en plat (FINE AND FLAT) nie. Wat nou?

Marina ·

Ek kan dit nie lekker verstaan hoe hy LETTERLIK met moord, haatspraak, geweld en wat nog wegkom nie. Laat een van ons dit durf!!!

donsie ·

as jy mooi gaan kyk op die shampoo bottels dan is daar baie shampoos wat swart vrouens se gesigte op het, moet dit ook nou afgehaal word?

LANA is ELANè ·

En wat doen die powere SAPD, staan handjies gevou en laat hierdie korrupte politici anargie saai net sodat hulle gratis publisiteit kan kry. Maar ja, so kry die Clicks-Groep stank vir dank, want onthou net CLICKS het handevol aandele aan die einste mense uitgedeel om hul BEE status te kon verkry, sodat hulle in rus en vrede kan handeldryf, maar in SA werk dit nie so nie, jy sal nooit onthou word vir wat jy reggedoen het nie, maar boeta, jy sal betaal vir elke skewe woord van hieraf tot in die ewigheid aan!!

daniel ·

Is hierdie hare wat die onnodige herrie uitgelok het nie Chinese haarstukke en nie natuurlike hare nie?.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.