37 jaar van volpunte vir dié meisieskool

Die matriekleerders van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) spog met ‘n 100% slaagsyfer vir verlede jaar se matriekeindeksamen. (Foto: Verskaf/AHMP)

Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (AHMP) spog vanjaar weer met ʼn 100%-slaagsyfer vir die matriekeindeksamen.

Dit maak vanjaar die 37ste agtereenvolgende jaar wat dié spogskool breëbors kan staan met uitstekende matriekuitslae.

Dié meisieskool het ook die hoogste syfer in universiteitstoelating in Gauteng tydens die eindeksamen in 2022.

Volgens Marna Jordaan, skoolhoof van AHMP, is sy trots op wat verlede jaar se matriekgroep vermag het, ten spyte van talle uitdagings soos die Covid-19-pandemie.

“Ek was benoud oor vandag se uitslae, want na my mening was hierdie groep die een wat die meeste getoets sou word. Hierdie kinders was in gr. 10 met die aanvang van die pandemie, en dit het ʼn groot uitwerking op hulle skoolloopbane gehad,” sê Jordaan aan Maroela Media.

Die matrieks van AHMP het altesaam 713 onderskeidings ingeoes, uitsluitend sewe onderskeidings vir alfa-wiskunde, wat dit op ʼn totaal van altesaam 720 onderskeidings te staan bring.

“Dit beteken ons het ʼn gemiddeld van 3,23 onderskeidings per leerder. Die groepgemiddeld is 76%. Dit is uitstekende uitslae en ek is as hoof van die skool ongelooflik trots op die leerders en die onderwysers.”

Jordaan glo daar is ʼn paar faktore wat bydra tot die leerders van dié skool se sukses as dit kom by matriekuitslae.

Ouers en leerders was ewe opgewonde oor die goeie uitslae van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. (Foto: Verskaf/AHMP)

“Dit is ʼn goed funksionerende skool waar sterk leierskap belangrik is. Ons het goed gekwalifiseerde personeel, maar die grootste bydraende faktor tot die sukses van die leerders is die werksetiek wat ons by hulle kweek.

“Die onderwysers inspireer die leerders, en die leerders inspireer mekaar. Yster slyp yster en die kinders en onderwysers van ons skool werk uitsonderlik hard.”

Volgens Jordaan het die skool ʼn sogenaamde intervensieprogram van stapel gestuur waarin leerders wat op enige vakgebied gesukkel het, ondersteun is met onder meer ekstra klasse en take.

“Ons het doelbewus ʼn program geskep wat aandag gegee het aan die probleme wat weens die Covid-tydperk en ander faktore teweeg gebring is. Hierdie leerders het baie tyd verloor, maar hulle het uitstekend daarvoor opgemaak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.