37 keer meer kinders kan van wanvoeding sterf as van Covid-19, meen verslag

Barend Uys, uitvoerende hoof van Opinor. Foto: Verskaf.

Daar is ʼn direkte verband tussen welvaart en voeding. Die enkele belangrikste rede waarom kleuterskole, dagsorgsentrums en skole moet heropen en inperkingsmaatreëls aangepas moet word, is sodat mense kan werk en ʼn inkomste kan verdien – anders kan 37 keer meer kinders jonger as 5 jaar sterf aan wanvoeding as aan Covid-19.

Dit is een van die gevolgtrekkings in ʼn verslag wat Donderdag deur die ideesentrum Opinor bekend gestel is.

“Na raming kan sowat 22 kinders in die ouderdomsgroep onder 5 jaar vanjaar aan Covid-19 sterf, terwyl 809 kinders in dieselfde groep aan wanvoeding kan sterf,” verduidelik Barend Uys, uitvoerende hoof van Opinor en samesteller van die verslag. “Die aanpassing van inperkingsmaatreëls sal ouers van kinders wat aan ʼn wanvoedingsrisiko blootgestel is, in staat stel om hulle te versorg. Boonop sal skole en dagsorgsentrums wat voedingsprogramme bedryf, dit ook kan hervat.”

Kontak tussen dié kinders en mense wat 50 jaar of ouer is, moet egter ten alle koste vermy word, beklemtoon die verslag, omdat die infeksiefataliteitskoers* vir hierdie ouer ouderdomsgroep baie hoër is.

Opinor se verslag, “Covid-19 en mortaliteit in Suid-Afrika,” waarin gekyk word na die mortaliteitsrisiko** van Covid-19 binne die Suid-Afrikaanse landskap, werp lig op die verskillende maatreëls wat vir verskillende ouderdomsgroepe, asook vir mense met onderliggende siektetoestande behoort te geld. Luidens die verslag is daar ʼn beduidende verskil in die infeksiefataliteitskoers van Covid-19 vir mense jonger as 50 jaar vergeleke met mense wat 50 jaar en ouer is, en daarom moet daar verskillende strategieë vir die onderskeie ouderdomsgroepe ontwikkel en in werking gestel word.

Die grondslag vir besluite oor strategieë wat vir verskillende ouderdomsgroepe geïmplementeer moet word, kan egter nooit wees dat “slegs” soveel mense moontlik kan sterf nie, benadruk Uys.

“Lewensverlies moet ten alle koste verhoed word. Die regte wyse om daarin te slaag, is om die risiko’s te identifiseer en te begryp, en die nodige maatreëls in te stel om dié risiko’s te versag. Dit is hoe ons elke dag lewe – ons kan nie alle risiko’s uitskakel nie, maar ons kan maatreëls instel om dié risiko’s tot aanvaarbare vlakke te beperk,” verduidelik hy.

Vir mense ouer as 50 jaar behoort ʼn totaal ander strategie gevolg te word as vir die ander ouderdomsgroepe, sê Uys, aangesien die mortaliteitsrisiko van mense jonger as 50 en ouer as 50 jaar drasties verskil.

Volgens die verslag sal ongeveer een uit elke sewe sterftes in die ouderdomsgroep 50 tot 65 jaar gedurende 2020 aan Covid-19 toegeskryf kan word. Die risiko van onderliggende siektetoestande in hierdie ouderdomsgroep – toestande soos diabetes mellitus, hartsiektes en hipertensie – is aansienlik hoër as in jonger ouderdomsgroepe. Maar terselfdertyd is die meeste mense in hierdie ouderdomsgroep ekonomies aktief, en onder normale omstandighede die mees ervare werknemers en ook senior en topvlakbestuurders. Daarom moet daar vir hierdie ouderdomsgroep ʼn strategie gevolg word waarmee hulle sover moontlik kan selfisoleer en deur middel van tegnologie tuis hul werk voortsit. Waar dit nie moontlik is nie, moet spesiale reëlings in die werkplek getref word om infeksierisiko te verlaag. Kontak tussen mense ouer as 50 met ander ouderdomsgroepe moet ook sover moontlik vermy word.

Uys sê maatreëls moet egter aangepas word sodat gemeenskapslede steeds kwesbare en ouer mense kan besoek sonder dat fisieke kontak plaasvind. Op dié wyse kan die uitdaging van eensaamheid uit die weg geruim word en lewensmiddele ook op ’n veilige wyse aan dié ouer mense voorsien word, sonder dat dit ’n bykomende las op gemeenskapsinstellings of die staat plaas.

Die persentasie van die geraamde getal sterftes weens Covid-19 en ander oorsake in 2020, volgens die Opinor-verslag.

Opinor se raming, wat volledig in die verslag bespreek word, is gebaseer op die aanname dat sowat 15 uit elke 100 mense in SA deur die SARS-CoV-2-virus (of koronavirus) geïnfekteer word, wat prakties beteken sowat 8,8 miljoen mense sal die virus opdoen. Dit is ’n baie konserwatiewe aanname en die kans dat dit in werklikheid baie minder gaan wees, is groot, sê Uys.

“Dit is ʼn baie hoë syfer, maar ʼn mens moet begryp dat hier gepraat word van die verspreiding van die siekte oor etlike maande heen en dat mense ingesluit word wat min of geen simptome gaan toon nie,” verduidelik die verslag. “Mense se gedrag is die faktor wat die grootste impak op die infeksiekoers het; aanpassings in mense se gedrag kan dus hierdie syfer beduidend beïnvloed.”

Juis daarom het Opinor dit nodig geag om dié verslag, waarin verskillende voorkomende strategieë vir verskillende ouderdom- en risikogroepe voorgestel word, saam te stel, sê Uys.

Benewens die ouderdomsgroepe 5 jaar en jonger, en 50 jaar en ouer wat hier bo bespreek is, word ook in die verslag gekyk na strategieë wat gevolg kan word vir ander ouderdomsgroepe. Só word byvoorbeeld gemeld dat die geraamde getal COVID-19-sterftes vir mense in hul twintigs laag is (gemiddeld 2,7%) vergeleke met die geraamde getal sterftes weens ander oorsake (gemiddeld 97,3%), en, volgens die verslag, nie vergeleke met ander bestaande risiko’s groot genoeg is om die sluiting van opleidingsinstellings en sakeondernemings as gevolg daarvan te regverdig nie.

“Daar is unieke omstandighede wat in Suid-Afrika geld en dit moet in ag geneem word wanneer strategieë ontwikkel word om COVID-19 te bestry. Strategieë wat gevolg word in lande waarvan die toestande en demografie heeltemal anders as dié van Suid-Afrika is, kan eenvoudig nie plaaslik in werking gestel word nie,” sluit Uys af.

Lees die volledige verslag op Opinor se webtuiste.

* Infeksiefataliteitskoers verwys na die persentasie mense wat met die koronavirus geïnfekteer is wat as gevolg daarvan sterf. Slegs mense wat geïnfekteer is, word dus vir die berekening daarvan in ag geneem. Die infeksiefataliteitskoers per ouderdomsgroep word dus bereken deur die getal geïnfekteerde mense wat binne die spesifieke ouderdomsgroep val en sterftes as gevolg van die infeksie binne die ouderdomsgroep in ag te neem.

** Mortaliteitskoers is die persentasie van die totale bevolking wat sterf. Die hele bevolking word dus vir die berekening daarvan in ag geneem. Die mortaliteitskoers per ouderdomsgroep word dus bereken deur die totale getal mense wat binne die spesifieke ouderdomsgroep val en alle sterftes binne die ouderdomsgroep in ag te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miskruier

Ek gaan eerder dood van die virus as wat my kinders van die honger doodgaan.

Jacobus

Jammer Miskruier ons voel ook so maar prioriteite werk in sekere gevalle anders – onwettige rookgoed eerste, dan lugtyd en as daar geld oor is ‘n bietjie kos.
In elke groot pandemie is wanvoeding die groot vernietiger.

Mauritz

‘N persoon sit veilig in sy huisie met genoeg kossies en warm kombersies en virseker van sy geldjies elke maand maar hy is so bang om dood te gaan dat hy gladnie omgee dat daar in sy plek 6 ander gesinne op straat beland, sonder kos, wenend in die winterwind. seker net in ‘n sprokies verhaal wat so iets kan gebeur ?

Sonneblomkind

Ek stem. Geen kinders moet honger ly en doodgaan agv Regeering nie reg die lockdown hanteer nie. Sektore op alle vasette moes op Level 4 oop gemaak word om almal n kans te kan gee om inkomste te kan verdien.