38 beseer toe bus, vragmotor bots

Foto: Netcare 911

Minstens 38 mense is Maandagoggend beseer toe ʼn bus en vragmotor op die R511 in Diepsloot, noord van Johannesburg, gebots het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê talle van die beseerdes is kinders. Paramedici van ER24, Netcare 911 en ander nooddienste is omstreeks 07:30 na die toneel ontbied. “By hul aankoms het hulle ʼn vragmotor aangetref wat langs die pad op sy dak gelê het. ʼn Bus het ʼn klein entjie verder gestaan.”

Meiring sê die beserings het van gering tot kritiek gewissel. “’n Kritiek beseerde man was vasgekeer in die kajuit van die vragmotor. Reddingswerkers moes gespesialiseerde toerusting gebruik om die man uit die wrak te sny.”

Foto: Netcare 911

Die man is op die toneel gestabiliseer voordat hy met ʼn Netcare 911 mediese helikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is. Ander beseerdes is deur verskeie ambulanse na hospitale gehaas.

Volgens Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, was daar ongeveer 40 skoolkinders in die bus ten tyde van die ongeluk.

Die oorsaak van die ongeluk word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Ek wonder hoeveel ongelukke vind plaas agv nalatigheid, roekeloosheid en arrogansie van padgebruikers?

Gister verby ‘n verskriklike ongelukstoneel gery op R512 naby Lanseria. Ek het nie die ongeluk sien plaasvind nie, maar mediaberigte wat ek gesien het praat van kop-aan-kop botsing. Indien korrek, wil ek weet hoe ‘n kop-aan-kop botsing by so ‘n kruising kan plaasvind teen daai spoed (wrakke wys onteenseglik daar was hoe spoed betrokkke). As een of albei bestuurders by daai kruising vinnig gery het? Ek verstaan dit nie. Dit is ‘n 4-rigting stop.

En om die kersie op die koek te sit – terwyl meeste mense geduldig stadig ry en hul beurt afwag om in ‘n enkelgelid motors verby ongelukstoneel te ry, sal daar steeds disrespekvolle, onverantwoordelike gemors wees wat aan die linkerkant in die noodbaan ry net om aan voorkant in te druk. Dit het ook die potensiaal om ‘n ongeluk te veroorsaak, want dinge was maar redelik deurmekaar.

En dan natuurlik die gebrek aan verkeers regulering deur die metropolisie gegewe die situasie – wel hoe minder ek skryf hoe beter. Skokkend om die minste te se.

lolla ·

mense is roekeloos en nalatig…. vat hulle van die pad af vir n tyd…maar dan weer wonder ek hoeveel van die verkeerspersoneel en polisie en wetstoepassers hoort nie op ons paaie nie…..is hulle almal bevoegd? ….. ek sien baie op die pad wat ek nie glo is nie…… as verantwoordelike instrukteur sou ek baie van hulle ook van die pad afhaal….maar hulle uniform en arrogansie laat hulle glo hulle is bevoeg…. dis waar baie probleme met van die mense ontstaan…. onbevoegde mense stop jou terwyl hulle regte probleme voor hulle laat gebeur en niks maak nie….maak skoon onder hulle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.