39 jaar vir kabeldiewe

Argieffoto van gesteelde koperkabels (Foto: SAPD)

Drie kabeldiewe is gesamentlik tronkstraf van 39 jaar opgelê in verband met diefstal van 564 kg Eskom-kabels in 2018.

Die kragvoorsiener het Donderdag in ʼn verklaring gesê die drie mans is op 11 Julie gevonnis ná hulle skuldig bevind is op aanklag van die besit van gesteelde goedere.

Bafana Masilela en Antonio Munyathi is elkeen 12 jaar tronkstraf opgelê in die Boksburg Noord-streekhof en Gut Gumba is 15 jaar tronkstraf opgelê.

“Die drie is op 28 November 2018 in hegtenis geneem tydens ʼn klopjag by ʼn skrootwerf in Boksburg. Die skrootwerfhandelaar het ʼn Eskom-kontrakteur in kennis gestel van die diefstal,” lui ʼn verklaring.

ʼn Klopjag is uitgevoer en die drie mans is in hegtenis geneem. Hulle was sedert hul inhegtenisneming in aanhouding en het 47 keer in die hof verskyn voor hulle gevonnis is.

Kith Maitisa, Eskom-veiligheidsbestuurder in Gauteng, het die vonnisse verwelkom. Hy het ook sy waardering uitgespreek vir die skrootwerfhandelaar en die sekuriteitskontrakteur wat vinnig reageer het.

Maitisa het ook die Nasionale Vervolgingsgesag bedank vir die suksesvolle vervolging. “Kabeldiefstal, en die diefstal van oorhoofse kabels en transformators kos Eskom jaarliks sowat R4 miljard. Die inhegtenisnemings en skuldigbevindings is ʼn teken van dit wat ons kan bereik as ons met verskillende belanghebbendes saamwerk om elektrisiteitsmisdaad te bestry.”

Enigiemand wat bewus is van enige misdaad wat met elektrisiteit-infrastruktuur verband hou, kan Eskom kontak by 0800 112 722.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris dupreez ·

Is dit reg, 47 keer in die hof verskyn. Dit moet n rekord wees.

SjN ·

Die berig se opskrif is misleidend, elkeen moes 39 jaar kry as afskrikmiddel vir die ekonomiese terroriste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.