39 verdrink in Limpopo dié reënseisoen

(Foto: SAPD Limpopo)

Genl.maj. Jan Scheepers, waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het opnuut ʼn beroep op ouers en voogde en lede van die gemeenskap gedoen om seker te maak kinders is veilig ná 39 persone, insluitend kinders, dié reënseisoen reeds verdrink het.

Die jongste voorval het Sondag by Praktiseer buite Burgersfort plaasgevind. “ʼn 12-jarige seun, Thabang Mogofe, het in ʼn groot gat verdrink wat glo deur ʼn padkonstruksiemaatskappy gegrawe is. Die voorval is eers Maandag aangemeld. Polisieduikers het die kind se liggaam uit vyf meter diep water gehaal,” sê brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie.

In ʼn soortgelyke voorval het ʼn 10-jarige seun verdrink terwyl hy Saterdag saam met vriende by Ntsima in Mankweng verdrink het. Die voorval het omstreeks 12:00 plaasgevind, maar is eers die aand omstreeks 20:40 by die polisie aangemeld. “Lede van die polisie se soek- en reddingseenheid het die kind se liggaam uit water op ʼn diepte van drie meter gehaal.”

Sedert die aanvang van die huidige reënseisoen het 39 mense, insluitend 15 minderjarige kinders, reeds verdrink. Sommige het verdrink toe hul motors deur vloedwater meegesleur is. Ander het verdrink terwyl hulle geswem het.

“As ʼn gemeenskap kan ons dié situasie omkeer en die verdrinkings voorkom deur te weet waar ons kinders speel en hulle op te lei sodat hulle nie in gevaarlike water swem nie,” voeg Scheepers by. “Ons moet uiters versigtig wees wanneer ons deur oorstroomde gebiede beweeg.”

Scheepers het ook die lede van die soek- en reddingseenheid geloof wat onverpoosd gewerk het om riviere, damme, mangate, puttoilette, strome en velde te deursoek.

(Foto: SAPD Limpopo)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marius ·

Daar is al talle waarskuwings uitgereik oor die swem in die riviere en dit word geïgnoreer. Sterkte aan die ouers en famillie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.