4 in hof vir moord op konstabel

Drie van die verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Drie van die verdagtes wat in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Die vier verdagtes wat in verband met die moord op konst. Vincent Mhangwani in hegtenis geneem is, het Vrydag in die Giyani-landdroshof verskyn.

Brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê Antonio Ngobeni (42), Armando Fernando Mandlazi (40), Santos Novela (39) en Dan Mahlasela Mkhabela (41) se aansoek om borgtog is nie toegestaan nie. Hulle het voorgekom op aanklagte van moord, sakeroof en die besit van onwettige vuurwapens.

Mojapelo het gesê uit die agt verdagtes wat Dinsdag in hegtenis geneem is, is net vyf van hulle positief met die rooftog en skietery op Mhangwani verbind. Die verdagte wat Dinsdag in die skietgeveg gewond is, het intussen aan sy beserings in die hospitaal beswyk.

Die saak is uitgestel tot 23 Maart.

Maroela Media het vroeër berig Mhangwani (38) is doodgeskiet nadat ʼn groep gewapende verdagtes Dinsdagoggend vroeg ʼn kruidenierswarewinkel in Giyani beroof het. By die polisie se aankoms op die toneel het die verdagtes reeds gevlug.

Die polisie het die gebied deursoek en op ʼn verdagte voertuig op die pad wat na Phalaborwa lei, afgekom. Die polisie het die voertuig gedwing om stil te hou, waarna ʼn skietgeveg uitgebreek het waarin Mhangwani noodlottig gewond is.

Die verdagtes het uit die voertuig gespring en te voet weggehardloop. Een van hulle is gewond en op die toneel in hegtenis geneem. Die polisie het op twee vuurwapens, ʼn Toyota Quantum-bussie en drie selfone beslag gelê. Van die kruideniersware wat beroof is, is ook teruggevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Fritz ·

Omdat hulle nie wit is nie word hulle gesigte nie gewys nie. Kom nou maroela media is julle ook nou teen die wit mense? Net witmense se gesigte word gepubliseer.

chris.L ·

ag fritz jy praat nou bollie kla oor gesigte maar se niks van die
konstabel wat beswyk het nie is dit nou van jou kantaf omdat
hy swart is mense hou tog op om net altyd kleur te sien in als
wat gebeur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.