4-jarige se noue ontkoming met slang

Darius Lessing (Foto: Verskaf)

“Die slang se stert hang uit.”

Met dié woorde het ’n 4-jarige seuntjie van Nylstroom Woensdag doodluiters na sy grootouers en tannie in hul plaashuis buite die dorp gestap en verduidelik waarom hy nie ’n draai in die badkamer kan loop nie.

Aanvanklik het die familielede gedink hy maak ’n grap, aangesien die grootmense net die vorige dag van ’n slang gepraat het nadat hulle ’n slangvel in die gang opgetel het – klein muisies het mos groot ore.

Later sou hulle egter besef dat klein Darius Lessing die reine waarheid praat toe hy sê daar is ’n slang in die toilet. “Ons herstel nou nog,” lag Nicolette Lessing, Darius se tannie, soos sy die storie oorvertel.

Volgens Nicolette het Darius se oupa saam met hom na die badkamer gestap om te gaan ondersoek instel en opgemerk dat daar wraggies ’n klein puntjie van ’n slang se stert onder die sitplek van die toilet uitsteek.

Die slang in die toilet. (Foto: Verskaf)

“Ons het eers gedink dis net ’n klein huisslangetjie en hom versigtig met ’n braaitang probeer uittrek, maar toe ons aan hom wikkel, toe sien ons sy lyf.”

Ja, onder die Lessing-huishouding se toiletsitplek het ’n wipneuskobra moontlik dae lank opgekrul gelê. Dié slangspesie is gelerig en bruinerig van kleur en báie giftig.

Volgens Neriché Lessing, Darius se ma, het die kobra vermoedelik drie tot vier dae in die toilet geskuil, aangesien die toilet die afgelope paar dae nie wou spoel soos gewoonlik nie. Neriché was ten tyde van die vonds elders op die plaas aan’t werk.

“Jy dink dadelik terug na die laaste keer wat jy daar gesit het!” spot Nicolette nou.

Volgens die Lessings het die familie dadelik die plaaslike slangvanger op Nylstroom ontbied om die slang uit die toilet te verwyder.

“Niemand het sedertdien weer by daardie badkamer ’n draai gaan loop nie,” sê Nicolette.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Jims ·

Hel, as mens gemaklik gaan sit op daai toilet en die slang se kop kom hier tussen jou bene deur?
Ek styg dwarsdeur die badkamer se dak!

Oumatjie ·

Lewer kommentaar…Ek is bevrees my reaksie sal meer wees as net papnat!

lollapot ·

Liewe Ouers! Die gedagte laat my skaterlag, alhoewel dit ‘n eintlik ‘n tragedie kon afgee!

Gato ·

Dit gebeur meer gereeld op plase waar die riool stelsel van ‘n “French Drain” gebruik maak. Die slange klim daar in die drein put in en seil binne-in die pyp op terug tot in die toilet.
Inderdaad ‘n baie giftige slang met ‘n mengsel van weefsel en senuwee gif.

madels ·

Oeeee, ek is dood! Dit kon erg gewees het as die kobra hom gepik het. Die seuntjie was ook wys om nie aan die slang te probeer vat het nie. Soveel genade hier…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.