4 ‘stropers’ in Krugerwildtuin vasgetrek

Argieffoto bloot ter illustrasie: SANParke

Vier vermeende renosterstropers is die naweek in die Krugerwildtuin vasgetrek, terwyl nog ’n vermeende stroper doodgeskiet is.

’n Sesde vermeende stroper het inhegtenisneming ontduik en ontsnap.

’n Swart renoster is nietemin gestroop en sy horings is in ’n rugsak langs die oorlede verdagte aangetref.

Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, sê veldwagters het onderskeidelik Vrydag en Saterdag op vermeende stropers in die Stolznek-gebied van die wildtuin toegeslaan met behulp van die polisie se honde-eenheid en lugvleuel.

Phaahla sê veldwagters het Vrydag ’n spoor agternagesit en ’n groep vermeende stropers betrap waar hulle onder ’n boom in die wildtuin gesit het. Die verdagtes het op die vlug probeer slaan, maar is eindelik aangekeer.

’n Jaggeweer, ammunisie en stropingstoerusting is op dié toneel gevind.

Veldwagters het die volgende dag op nóg twee vermeende stropers afgekom toe hulle geweerskote gehoor en ondersoek ingestel het. Een van die verdagtes was gewapen en is doodgeskiet terwyl sy makker op die vlug geslaan het.

’n Rugsak met twee renosterhorings, ’n geweer en stropingstoerusting is langs die oorlede verdagte se liggaam gevind. Die karkas van ’n swart renosterbul is nie ver daarvandaan aangetref nie.

Phaahla sê die horings in die rugsak is vermoedelik dié van die verminkte dier.

Gareth Coleman, SANParke se besturende direkteur, het intussen die teenstropingseenhede gelukgewens met die inhegtenisnemings.

“Ons is hartseer dat ons die naweek ’n renoster verloor het, maar word bemoedig deur die dapper optrede van ons multidissiplinêre stropingspanne wat twee gewere suksesvol uit die stelsel gehaal en verdagtes aangekeer het wat nou in aanhouding is.”

Coleman het ook die onlangse vonnis van Simon Mahumbane Lubisi verwelkom.

Maroela Media het verlede week berig Lubisi (38) is in die Skukuza-streekhof tot effektief 19 jaar tronkstraf gevonnis sewe jaar nadat ’n renoster in Laer Sabie in die Krugerwildtuin gestroop is.

Coleman sê 22 stropers is gedurende Julie en September vanjaar in hegtenis geneem, ’n toename van 29% vergeleke met die 17 wat gedurende dieselfde tydperk verlede jaar aangekeer is.

Altesame 13 stropervuurwapens is boonop vanjaar gedurende die betrokke tydperk teruggevind, vergeleke met die sewe gedurende dieselfde tydperk in 2020.

“Die bestuur van die Nasionale Krugerwildtuin is vol vertroue om die situasie die hoof te kan bied met al die veiligheidsbywerkings wat onlangs gemaak is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan Seerot

Skote Petoors!

Bernard

Hartseer dat net een stroper in die stof gebyt het.

Kokerboom

Welgedaan

Toy

Goed gedoen.

JM

Bravo! Baie geluk!