4 transitorowe in 2 dae in 3 provinsies

Die transitorooftog in Mpumalanga. Foto: SAPD

Die transitorooftog in Mpumalanga. Foto: SAPD

Mpumalanga, Limpopo en Noordwes is vandeesweek deur ʼn vlaag transitorooftogte getref.

In die jongste voorval het ʼn groep van sowat 15 verdagtes in twee BMW’s en drie Range Rovers Woensdag op ʼn G4S-geldwa in Mpumalanga toegesak.

“Die geldwa het op die Karino-pad in die rigting van die Kruger Mpumalanga-lughawe naby Nelspruit gery toe die verdagtes vanuit die voertuie op die geldwa losgebrand het,” het brig. Selvy Mohlala, provinsiale polisiewoordvoerder, gesê. “Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en die voertuig het omgeslaan.” Die verdagtes het die geldwa se deur met plofstof opgeblaas en met ʼn paar sakke geld gevlug. Die veiligheidswagte is ongedeerd.

Vroeër die dag is daar op geldwaens in twee afsonderlike voorvalle in Limpopo toegeslaan. Maroela Media het berig een van die voorvalle het by Laerskool Tzaneen plaasgevind nadat die skool begin het.

“ʼn Veiligheidsmaatskappy kom haal elke dag kontant by die skool en die reëling is dat die transitovoertuig voor die saal stop en een veiligheidswag by die kantoor ingaan om die geldtrommel uit die kluis te gaan haal,” het Vic Rijnen, hoof van die laerskool, gesê. “Woensdagoggend het die transitovoertuig oudergewoonte by die hek gestop en toe die veiligheidswag hulle inlaat, het ʼn wit bakkie agter die voertuig die skoolterrein binnegery.”

Daar was ses insittendes in die bakkie van wie drie polisieuniforms met koeëlvaste baadjies aangehad het. Die drie “polisiebeamptes” het uitgeklim en in die rigting van die kantoor gestap. Toe die beampte van die veiligheidsmaatskappy met die geldtrommel uitgestap kom, het een van die rowers ʼn vuurwapen uitgepluk en ʼn skoot afgevuur. Die rowers het die geldtrommel en die veiligheidswagte se selfone gesteel, voordat hulle op die vlug geslaan het. Niemand is tydens die voorval beseer nie en die leerders het nie die rooftog gesien nie.

Vroeër Woensdagoggend is ʼn veiligheidswag tydens ʼn transitorooftog op die pad tussen Tzaneen en Giyani geskiet en ernstig gewond.

Foto: Watchdog Tzaneen

Die transitorooftog tussen Tzaneen en Giyani. Foto: Watchdog Tzaneen

Marius Jacobs, woordvoerder van Watchdog Tzaneen, het aan Maroela Media gesê die rooftog het omstreeks 04:00 op die pad tussen Tzaneen en Giyani plaasgevind. Die rowers het vanuit ʼn BMW X5 en Audi op die begeleidingsvoertuig geskiet. “Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor, waarna dit gerol en op sy dak in bosse langs die pad beland het,” het Jacobs gesê.

Die rowers het daarna op die transitovoertuig losgebrand en twee van die bande stukkend geskiet om die voertuig só tot stilstand te dwing, het hy gesê. Die verdagtes het uitgespring en vuurwapens op die insittendes gerig en hulle gedwing om die transitovoertuig oop te sluit. Die verdagtes het met ʼn groot bedrag kontant in die rigting van Phalaborwa gevlug. R5-patroondoppies is op die toneel gevind.

Een van die insittendes in die begeleidingsvoertuig moes na ʼn hospitaal gehaas word nadat hy in sy bekken geskiet is. Die ander insittende het net geringe beserings in die voorval opgedoen.

Die geldwa wat in Noordwes aan die brand gesteek is. Foto's: Verskaf

Die geldwa wat in Noordwes aan die brand gesteek is. Foto’s: Verskaf

Dinsdagmiddag is sowat R5,4 miljoen tydens ʼn transitorooftog tussen Stella en Mahikeng in Noordwes gebuit.

Kapt. Paul Ramaloko, provinsiale polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê twee veiligheidswagte was op die N18 in die Setlagole-omgewing toe hulle noodgedwonge moes stop toe die geldwa ʼn pap band gehad het.

“Die veiligheidswagte is deur ses gewapende mans oorval toe hulle die band wou ruil. Die verdagtes het die wagte van hul vuurwapens en selfone beroof voordat hulle die wagte sowat 500 m ver die veld in gesleep het.”

Die verdagtes het die wagte vasgebind en brandstof oor hulle uitgegooi. Hulle is glo met die dood gedreig as hulle nie hul samewerking gee nie. Die verdagtes het die geldwa aan die brand gesteek voordat hulle met die geld van die toneel gevlug het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

DPJ ·

Ja, verkiesings veldtogte kos baie geld vir al as jy kospakkies moet uitdeel vir ‘n stem.

Thys ·

Jip. Ek stem. Verkiesings is duur. En sakke is leeg getender.

pat aldrich ·

Alles sal tot na die verkiesing erger word. Guptas gaan help met Nkandla en transito met verkiesing. Voorspoed Suid-Afrika

m ·

En die ander probleem is dat die regering geen werk meer skep nie so dis ook hoekom mense maar eerder roof. Hierdie tipe rooftogte gaan maar net meer word.

Christo ·

Waarom word kontant nie in spesiale trommels verpak en vervoer nie. (Dit is beskikbaar) Wanneer ‘n moontlike rooftog verwag word, word die “ink cartridge” ge aktiveer. Die geld word gemerk en is waardeloos vir enige persoon. Die gemerkte note word terug gestuur na munt of reserwe bank en vervang met geldige note. Sodoende ly niemand enige skade nie en sekerheids personeel se lewe is nie in gevaar nie.

elsabe ·

Christo ek wonder nou self hoekom dit nie so gedoen word nie…wonder hoeveel van hierdie rooftogte is dalk in die binnekring georganiseer??

Kaspaas ·

Christo die voertuie het nie ink nie net die CPC carriers van die klient na voertuig het ink waar die wag se duim op is. Van die voertuie het egter skuim wat hard word maar nie almal. Dit kan wees dat die voertuie dit gehad het.

Pieter.v ·

Die versekeraars van die firmas, wat die geld vervoer moet dalk dieper op die transitorowe ,ingaan ,Daar is baie oud dienspligtes en weermag manne wat sonder werk is laat die firmas wat geld vervoer weermag Ratels kry en die manne met geweer granate toerus

Anoniem ·

Dis omdat verkeerde mense in poste aangestel word – ‘n ruk terug stop ons by supermark (poskantoor is oorkant). Transito voertuig stop by supermark, kom terug, stop by poskantoor. Swart man
klim uit kry iets agter, (ek hou hom dop in tru-spieël). Maak u-draai met wapperende oop deur agterkant van voertuig. Stop vinnig asof hy onthou het deur is oop, klim uit maak deur toe en ry verder.

Penellope Jones ·

Vier transito-rooftogte in 2 dae klink taamlik toevallig….

Gesiggie ·

Hopeloss te toevallig???? En die bestuurder van die geld trok is ongedeerd? hoe maklik is die rooftog?? dra die man dan nie n geweer by hom?? die geldwa is mons bullet proof… skiet boet, hul kan jou nie tref?? so maklik klink vir my te goed om waar te wees….

CAB ·

So paar jaar terug het Pretoria ook so paar agter mekaar gehad? wonder of hulle geld klaar geraak het? Glo nie hulle was ooit gevang nie..

david ras ·

Mens kan sommer sien daar is ‘n verkiesing aan die kom—die ANC se diakens is bedrywig !!

GES ·

David dit kan jy weer sê. Die kollekte moet opgeneem word want hulle kan nie bekostig om hulle sitplekke op die sous trein te verloor nie.

Elizabeth ·

Philip Bruwer: die meervoud van “geldwa” is “geldwaens” en nie “geldwa’s” nie!!!! Sien paragraaf 4.

Sune van Heerden ·

Dagsê Elizabeth

Ons vra om verskoning vir die fout wat ongesiens verbygegaan het. Ons het die berig gewysig.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Liewe heksie ·

My seun werk vir n baie groot tak van so n geld vervoer besigheid my hart slaan bomelasie elkekeer wat dit gebeur gelukkig vir my werk hy nie op die pad nie maar as hy sulke sake moet ondersoek is ek as ma so bekommerd dat hul hom sal merk en ja 75% is inside jop en in die ander gevalle is daar dood betrokke en dit is so hartseer en ja hul geld is met ink beveilig maar dit stop geen wreedaard en gulsige daar buite nie

jaco ·

Die sekuriteitsbesighede kan die geld in Checkers-sakke pak en dit vervoer in ‘n Tata Indica. Niemand sal weet daarvan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.