4 vas ná moord by winkelsentrum

Gemeenskapslede drom saam waar die man in die parkeerterrein vermoor is. (Foto: Rusa/Facebook)

Vier verdagtes is Sondag by ’n winkelsentrum in Phoenix, KwaZulu-Natal, in hegtenis geneem nadat ’n man (44) in die parkeerterrein van dié winkelsentrum vermoor is.

Reaction Unit South Africa (Rusa) sê sy beamptes is om 16:47 na die Phoenix Plaza in Starwood ontbied waar hulle ’n man in ’n plas bloed in die parkeerterrein aangetref het.

Die man is ondersoek en dit is vasgestel dat hy een keer in sy linkerfemur met ’n mes gesteek is. Die man het baie bloed verloor en reeds voor die nooddiens se aankoms op die toneel aan sy besering beswyk.

Gemeenskapslede op die toneel het aangedui dat twee mans, wat in ’n wit Toyota HiAce-taxi by die winkelsentrum aangekom het, vir die moord verantwoordelik is.

Dit word beweer dat die oorledene sy gesin in hul motor gelos het en na die kitsbank gestap het. Die slagoffer het in ’n argument met die twee mans wat in die taxi aangekom het sowel as die bestuurder van dié taxi en die kondukteur betrokke geraak.

Die man is met ’n mes gesteek voordat die taxibestuurder en sy kondukteur na die taxi teruggekeer het. Hul makkers het ná die messtekery deur die winkelsentrum gevlug en probeer om ’n taxi na Inanda te haal.

Die taxibestuurder en sy kondukteur is op die toneel aangehou en ondervra. Hulle het eindelik ’n beskrywing van hul makkers verskaf en Mike Xolisi, ’n beampte van Rusa, het hulle agternagesit.

Die mans is by ’n taxistaanplek opgespoor waar hulle reeds in ’n ander taxi gesit het. Die taxi sou kort daarna na Inanda vertrek.

Xolisi het ’n mes, vermoedelik die moordwapen, in dié twee verdagtes se besit gevind. Hulle is in hegtenis geneem en terug na die moordtoneel geneem waar die taxibestuurder en kondukteur ook in hegtenis geneem is.

Al vier verdagtes is intussen in aanhouding by die polisiestasie in Phoenix, sê Rusa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Diline

Goeie genade wat gaan deesdae aan in KZN? Die die een moord na die ander en meestal meer as 1 slagoffer! Hoed moet sy werk begin doen want misdaad neem die land oor en hy hou homself op met beuselagtighede. Sodom en Gamorra op die ergste graad

Tiptol

Nuwe Suid-Afrika. As iemand nie met jou saamstem nie, word hulle van kant gemaak.

Eugene

Was die slagoffer n Indier man ? (in die lig van die onlangse gebeure in Phoenix)

christo

Dis opvallend dat dieselfde sekuriteitsmaatskappy (RUSA) baie suksesvol is in die aankeer van misdadigers. Die gemeenskap vertrou definitief RUSA meer as die SAPD.

JM

Moord is deesdae sommige mense se nasionale sport. Dit gaan by die dag erger!