4 vas oor miljoene rande se perlemoen

Van die perlemoen wat in ‘n bussie in Brackenfell gevind is. Foto: SAPD

ʼn 53-jarige man is Maandag in Brackenfell in die Wes-Kaap in hegtenis geneem nadat perlemoen ter waarde van ongeveer R5 miljoen in sy besit gevind is.

Lt.kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, het gesê die inhegtenisneming is danksy twee parate polisiebeamptes wat ʼn verdagte Mercedes Benz Vito-bussie in die parkeerarea van ʼn kitskosrestaurant in Brackenfell opgemerk het.

“Die beamptes het gesien hoe die bussie in die parkeerarea stilhou en hoe twee mans, wat baie senuweeagtig gelyk het, van die bussie af wegstap. Kort daarna het die bestuurder van ʼn Land Rover ook in die parkeerarea stilgehou, in die bussie geklim en weggery,” het Traut gesê. “Die beamptes het hom gevolg en hom aangesê om stil te hou. Nadat die voertuig deursoek is, is 60 sakke gedroogde perlemoen in die bussie gevind.”

Volgens Traut kon die man geen wettige permit toon vir die besit of vervoer van perlemoen nie en is hy op die plek in hegtenis geneem. Hy sal Woensdag in die Kuilsrivier-landdroshof verskyn.

Die inhegtenisneming kom ná ʼn soortgelyke voorval Sondag toe drie verdagtes in Sybrand Park in Mowbray in hegtenis geneem is vir die onwettige besit van perlemoen.

Die perlemoen en toerusting wat in ‘n huis in Mowbray gevind is. Foto: SAPD

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is deur een van die bure na ʼn huis ontbied nadat daar glo ʼn ontploffing in die huis was. Met hul aankoms op die toneel het hulle ʼn man en vrou, albei 53 jaar oud, aangetref wat brandwonde opgedoen het. Hulle is na ʼn hospitaal geneem.

ʼn 52-jarige vrou binne die huis is ook in hegtenis geneem. Volgens Rwexana is die huis deursoek en het die polisie plastiekhouers en emmers vol perlemoen gevind. Daar is op perlemoen ter waarde van R2.9 miljoen beslag gelê. Dit is nog nie duidelik wat die ontploffing veroorsaak het nie en dit maak deel uit van die polisie se ondersoek.

Die drie verdagtes sal binnekort in die Wynberg-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Swannie ·

Die twee persone wat die bussie daar parkeer het, moet nou ook gesoek en aangekla word.

snoefie ·

as die viskwotas aan die kaapse vissers pleks van uitlanders en kaders gegee word, sal dit nie vir hulle nodig wees om perlemoen, kreef of ander skatte uit die see te smokkel nie. sou die man ooit R50 000 gekry het vir die “geraamda R5 000 000 wat hy gehad het?

humor ·

Dit wil voorkom of daar ndepartement is wat nie hul werk doen nie en heel moontlik saam roof en plunder tot dat daar nie meer enkele perlemoen oor is nie. Hoe kan die perlemoen ongesiens langs die kus geoes word en waarom word dit eers ontdek nadat dit gedroog en verwerk is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.