4 wat man voor gesin keelaf sny kry lewenslank

hof-hamer

Argieffoto

Vier mense is Woensdag elkeen lewenslange tronkstraf in die rondgaande hof in Klerksdorp opgelê vir die moord op die sakeman Abo Kooreshi.

Volgens lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie, het die hof bevind dat Bonisile Spaydile (50), George Makhobosi (43), Joseph Mandlathi (39) en Sibonelo Mlambo (30) die 63-jarige Kooreshi op 23 Julie 2017 in sy huis in Wolmaransstad vermoor het.

Kooreshi was die aand van sy moord tuis saam met sy 60-jarige vrou en sy dogter (27) toe vier mans toegang tot die gesin se huis verkry het. Die mans het Kooreshi en sy gesin gegryp en hulle met elektriese koord vasgemaak voordat hulle geld geëis het.

Dit het tydens die hofverrigtinge aan die lig gekom dat hoewel Kooreshi die geld wat in sy kluis was, aan die aanvallers gegee het, hulle steeds meer geëis het. Toe hulle nie meer geld kon kry nie, het een van die aanvallers kombuis toe gegaan en met ʼn mes teruggekom, waarmee hy Kooreshi se keel ten aanskoue van sy vrou en dogter afgesny het.

Die huis is toe geplunder waarna die mans ’n skootrekenaar, selfone en juweliersware gesteel het.

Die hof het later gehoor dat Kooreshi se dogter vir hulle haar pa se bankkaart gegee het en gepleit het dat hulle nie haar of haar ma doodmaak nie.

Die aanvallers het daarna met die ma en dogter in die gesin se Kia-motor na ’n bank gery waar hulle kontant onttrek het voordat hulle ma en dogter in die veld op die N12 afgelaai het.

Die verlate voertuig is later sowat 16 km buite die dorp gekry.

Volgens Funani is die mans dae later op 28 Julie in hegtenis geneem.

Elkeen is tot lewenslange tronkstraf vir moord gevonnis met ’n verdere 15 jaar tronkstraf vir gewapende roof, vyf jaar tronkstraf vir ontvoering en drie jaar tronkstraf vir diefstal.

Mlambo is ’n verdere agt jaar tronkstraf opgelê vir die besit van vuurwapens en een jaar vir die besit van ammunisie.

Die vonnisse sal aaneenlopend uitgedien word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Linda ·

Ag neeee, hoe verskriklik wreed!! Die trauma waarmee ma en dogter moet saamleef is iets vreesliks. Sterkte julle is in ons gebede.

Cherokee ·

Die eerste keer wat ek lees dat vonnisse aaneenlopend uitgedien sal word. Dit is soveel beter uitspraak as vele ander.

Abe ·

Johan,
Wat de hel wil jy met hulle idetikits maak. Ons versoek dat hulle foto’s asb. In die media gepubliseer word.

Leeann ·

Dit is sy regte naam, hy was ‘n eienaar van ‘n groot materiaal en naaldwerk winkel met ‘n Afrikaanse naam in Wolmaransstad. Hy was ‘n Indiër

Blaarman ·

Leeann

Dankie vir die inligting. Dit is werklik tragies – my simpatie met sy familie en die gemeenskap.

Leeann ·

Dit is sy regte naam. Hy het ‘n groot materiaal en naaldwerk winkel in Wolmaransstad gehad, met ‘n Afrikaanse naam

piet piet ·

Die oorvol tronke veroorsaak dat miskien net n kwart van vonnis uitgedien word so n swaar straf word nou n ligte straf.

Johan ·

Dit is onbegryplik wreed van die boosdoeners. Bly hulle is darrem vir nou uit ons samelewing verwyder. Sterkte aan die familie.

Sue ·

Wanneer gaan die doodstraf terug kom dis al wat hierdie dade gaan stop daar is geen afskrik middel nie.
Tragies dat moorde so alledaags geword het.
Sterkte aan sy familie wat daarmee moet saamleef

Sarel ·

Pleeg misdaad en word vergoed met belastingbetalers geld. Wat vergeet word is dat daar n belastingbetaler minder is. Die familie se hartseer en trauma word nerens verreken nie. Our people is mos geregtig om ander hul grondwetlike reg te ontneem en dan hul regte te geniet.

HARTSEER ·

Hoe lank is lewenslank? Hul gaan aan met hul lewens al is hul in die tronk, maar hierdie gesin is beroof van ‘n vader en inkomste maar die skuldiges gaan bly in 5* hotelle (ons tronke met alle geriewe). Wie gaan sorg vir hierdie gesin die Regering?? Nee die skuldiges kom mos eerste en dan die wetgehoorsames.

Susna ·

As hierdie moord in Botswana plaas gevind het, was hierdie misdadegers al lankal nie meer deel van die samelewing nie. Suid Afrika is besmet met korrupsie en geweld.

Marietjie ·

Waarom word hulle kele nie ook afgesny nie? Nou moet ons, belastingbetalers, vir hulle sorg in die tronk!!!! SIEK!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.