40% bejaardes kry nooit besoek van kinders, wys verslag

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

ʼn Studie wat in 2019 deur Solidariteit Helpende Hand gedoen is, toon dat 40% van inwoners in tehuise vir bejaardes nooit deur hul kinders op ʼn uitstappie geneem word nie, en nooit besoek van hul kinders ontvang nie.

Altesaam 20% bejaardes ontvang maandeliks of jaarliks ʼn besoek van hul geliefdes, met 34% wat ʼn weeklikse besoek geniet, en 6% wat bevoorreg is om ʼn daaglikse besoek te ontvang. Sowat 30% van die respondente het aangedui dat hulle geen onmiddellike ondersteuningsnetwerk het nie.

Ongeveer 450 bejaarde inwoners van 50 tehuise het aan Solidariteit Helpende Hand se studie deelgeneem. Die doel van die studie was om te bepaal wat die tehuise se behoefte aan ondersteuning en dienste is en wat inwoners van hierdie tehuise se belangstellings is, ten einde vas te stel hoe Helpende Hand in hierdie behoeftes kan voorsien.

Intussen het die minister van finansies, Tito Mboweni, vandeesweek in sy begrotingstoespraak bekend gemaak dat die ouderdomstoelae met R80 styg tot R1 860 – ʼn skamele 4,3%.

Ander bevindinge van Helpende Hand se studie sien soos volg uit:

  • Die gemiddelde tarief vir verblyf is R6 619 vir ’n enkelkamer, R8 461 vir ’n dubbelkamer en R7 591 vir die versorgingseenheid. Byna 40% van die bejaardes ontvang ’n staatstoelae. Dié bydrae beloop vanaf R984 tot R3 541 per inwoner per maand. Ongeveer die helfte van die inwoners ontvang die Sassa-toelaag van R1 860, wat hul verblyf moet dek en nie voorsiening maak vir die volle verblyfkoste nie. Uitgawes soos kruideniersware en mediese onkoste is hier nog nie ter sprake nie.
  • Byna die helfte van die bejaardes (47%) het geen toegang tot ’n mediese fonds nie en moet op die staat se mediese versorging staatmaak.
  • Ongeveer 40% van die bejaardes is ten volle afhanklik, benodig voltydse sorg of ly aan ’n sekere mediese toestand soos ʼn liggaamlike gestremdheid, blind- of doofheid, of psigiese steurnis (soos depressie en angs). ’n Kleiner persentasie van die tehuise se inwoners ly aan Alzheimer se siekte of demensie.
  • Die meeste van die bejaardes (83%) het kinders, en sowat die helfte van die bejaardes se kinders sien ook finansieel na hulle om.
  • Altesaam 2 188 voltydse personeellede wat 3 559 bejaarde inwoners moet versorg, se salarisse word deur die tehuise betaal. Dit is ’n gemiddeld van 44 personeellede per tehuis en gemiddeld 10 vrywilligers wat hul dienste, hulp en ondersteuning vir die tehuis gratis aanbied.

Hoe kan jy help?

Argieffoto (Foto: StockSnap/Pixabay)

  • Die grootste behoefte wat deur die bejaardes aangedui is, is die behoefte aan uitstappies en geselskap.
  • Die grootste behoefte aan dienste wat die tehuise nie kan bekostig nie, is instandhoudingspersoneel (91%), fisio- en arbeidsterapie (90%), beradings- en maatskaplike dienste (53%) en spraakterapeute (43%). Hierdie dienste word by minder as 10% van tehuise aangetref en die sukses en versorging van bejaardes is afhanklik van hierdie besonderse dienste, kennis en vaardighede.
  • Al die tehuise bied ’n verskeidenheid van aktiwiteite en uitstappies vir die bejaardes aan. Die grootste behoefte aan materiaal vir aktiwiteite wat die tehuise aangedui het, is wol, breinaalde en bordspeletjies (ongeveer 80%-85%). Ongeveer 50% van die tehuise benodig inkleurboeke en -potlode, balle, legkaarte, boeke met groot skrif, vroetelkussings, toerusting vir kunsaktiwiteite, babapoppe en speelgoed.
  • Die produkte wat tehuise verlang is vleisprodukte, groente en vrugte (ongeveer 80%), asook LED-ligte, kruideniersware, beddegoed en matrasse (ongeveer 70%).
  • Die grootste fisieke behoeftes vir bejaardes is toiletware (76%), brille (50%), gehoorapparate en doeke (30%), en griepinspuitings voor die wintermaande. Ongeveer 50 bejaardes het aangedui dat hulle ’n behoefte het aan ’n maandelikse voetsorgbehandeling.

Om saam met Helpende Hand by ʼn tehuis vir bejaardes naby jou betrokke te raak, skakel Solidariteit Helpende Hand by 012 111 8360, besoek die webwerf en bied jou hulp aan, of klop by jou dorp se Helpende Hand-tak aan.

Lees die volledige Helpende Hand-verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Annakapat ·

…en dan is daar ouers wat ondankbaar is vir dit wat mens wél vir hulle probeer doen onder moeilike omstandighede …

E ·

Ja ek stem. Sommige bly in hulle eie wonings en het kinders wat heeldag hardloop om al hulle behoeftes te bevredig. Maar wee die dag of keer wat hulle nie kan nie. Hoor nooit die einde nie. Ek moes ongelukkig laas jaar nee se dat so ‘n bedorwe brokkie by my kom bly. Ek werk voltyds en sou nooit dit kon oorleef nie. Ek se maar altyd baie van die wat nooit besoek ontvang nie het dalk ook maar iets aan hulle kinders gedoen. Liefdevolle huise kweek liefdevolle kinders.

Namgrl ·

So Jammer E, jy moes baie seer gekry het. Weet jy, ek glo meeste mense sal saam stem – al is jy hoe kwaad of seer gemaak van jou ouer – ek glo soos mens groot word leer jy om te vergewe – te laat vaar. Daar is van ons wat smag vir dai liefde van ‘n ouer – ek het net my vader oor – het my moeder op ‘n 6 jarige ouderdom verloor – mis haar nog elke dag. Het ‘n stiefma gehad – dinge was swaar, tight – moeilik – maar tog, op jou dag kom ‘n tyd dat jy besef – it is not worth it – embrace what you have. Ons het vergewe en vergeef, ons stiefma – en haar klein kinders was gek oor haar – het haar so 3 jaar terug verloor. Ek sou wat wou gee om my eie moeder te kon ken…en haar klein kinders te leer ken.
moet my nou nie kruisig nie – elke saak het sy eie inkleur boek – ek het simpatie.
mooi bly

Gogga ·

Siestog, dis aaklig! Ek dink nou aan ‘n leerlingraad uitreik wat deur ons laerskool laasjaar gehou was. Elke leier moes ‘n paar pantoffels vir die ou mensies saam vat en hulle het dit uitgedeel. My dogter het nogal vertel van die een Oompie wat nog besig was met ‘n storie toe die matrone hulle kom haal het en na ‘n ander kamer gevat het. Sy het nogal genoem dat sy daarvan sal hou om weer by die ou mensies te gaan kuier. Miskien moet ‘n mens tog maar uit eie beweging net 2 ure van ‘n Saterdag opoffer en by ‘n ouma of oupa gaan gesels.

Leon ·

Dan vergeet hulle van die reuse hoeveelheid bejaardes wat nie afhanklikes of familie het nie. Hulle is alleen en daar is geen ondersteuning nie. Omdat daar nie ondersteuning is wat vir hulle uitkyk nie, word hulle soms soos weggooi diere behandel.

Cherokee ·

‘n Belangrike en interessante artikel, maar as ek hierdie artikel sou neergepen het, sou ek dit gebruik het om ook aan jonger lesers die belangrikheid van aftree beplanning te beklemtoon. Ten minste drie punte sou uitgewys gewees het aan die jonger geslag:
1. Jy besluit nie om in die nabye toekoms met aftree beplanning te begin nie, maar moes rèèds daarmee begin het.
2. Jy beplan nie (net) om met dieselfde inkomste as nou af te tree nie, maar dit moet moet moet jaarlikse verhoging insluit.
3. Hoe skep jy ‘n jaarlikse verhoogde inkomste na aftrede? Deur as voorbeeld (die bèste belegging) verhuringseiendom te besit.

As jy ‘n jong vrou is met ‘n eggenoot wat duur karre koop maar nie belangstel om eiendom te koop, vervang hom met ‘n beplanner. Aftree Beplanning begin by die eerste dag wat jy begin werk. Dit is waarom ‘n pensioenskema deel vorm van die jongelinge se aftrekkings.

Scalla ·

Wees lief vir jou kleinkinders, hulle gaan bepaal na watter oue tehuis jy toe gaan.

Ann ·

Regtig? Jy sien dan in die artikel hoe duur dit is. Dis wat dit bepaal. Dit het g’n met ander mense te doen nie.

Joggie ·

Hartseer dat baie kinders hulle roeping versuim om vir hulle ouers te sorg!

Belinda ·

Dit is soooo hartseer, hierdie ouers het alles vir hulle kinders gedoen. Soms is dit moeilik, moet nooit vergeet ons almal kom daar en hoe sal jy voel as jy so vergeet word. Ek stem saam dat daar meer groepe vir ondersteuning gestig moet word, ek het na my Moeder ander oorgeneem en ek en hulle baat daarby, hul kennis en stories is ongelooflike Prozac.

petro ·

Dit is baie sleg. Eensaamheid is ‘n vreeslike gevoel. Soms is dit bedorwe brokkies wat net niks vir hulle ouers wil doen nie. Ons almal raak oud en niemand wil alleen en vergete wees nie.

Grassie ·

Daardie bejaardes wat nooit besoek word nie – wanneer hulle wegval daag daardie kinders dieselfde dag of vroeg die volgende oggend op, elkeen met ‘n sleepwaentjie agter sy motor. Ek het dit ‘n maand gelede vir die hoeveelste keer gesien. Soms word daar selfs ‘n vuis of twee ingelê.

Pampoen ·

Dis ‘n skande dat mense nie na hulle ouers omsien nie. Diegene wat hulle ouers versaak moet ook eendag oud word …..

daniel ·

Dis n groot skande dat byna die helfte van ouers nie hulle ouers ooit sien nie.
Maar die wiel draai , en more kom hulle aan die beurt.

Chantel ·

…ja en dan is daar ouers wat alhoewel hulle 2 of meer kinders het, slegs een kind voortrek en dan lê hulle op hul sterfbed en wonder wat van die ander geword het.

popsa ·

Miskien besef volwasse kinders nie altyd HOE lief hulle ouers hulle steeds het nie…en hoe belangrik dit vir ons Skepper is dat ons ons ouers al die dae van ons lewe sal eer nie. ‘n Seën wag op dié wat getrou in liefde na hulle ouers omsien (Eksodus 20:12). Doen maar vandag. Môre mag dit te laat wees.

Erik ·

Popsa, daar is ook ‘n gedeelde in die Bybel wat sê ouers moet nie hul kinders verneder/sleg behandel nie. Vergewe ja, maar nie vergeet nie. Terloops, vergewe en VERGEET is nêrens in die Bybel of ‘n Bybelse beginsel nie. ‘n Slagoffer van ‘n verkragting moet egter die verkragter vergewe, maar sal nooit kan vergeet nie en ook nie teruggaan na die verkragter om ‘n verhouding te probeer bou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.