40 ‘bendelede’ in Jouberton aangekeer

(Argieffoto: Maroela Media)

Altesaam 40 persone, tussen 18 en 40 jaar oud, vermoedelik lede van verskillende bendes in die Jouberton-area in Noordwes, is Woensdag in hegtenis geneem.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, het gesê beamptes van die nasionale ingrypingseenheid, lugvleuel en beamptes van die eenheid vir openbare orde, het omstreeks 16:00 toegeslaan op ʼn gastehuis in Extention 14 in Jouberton.

“Twee polisiebeamptes op patrollie het voor die operasie gesien daar is ʼn byeenkoms by die gastehuis en hulle is ook gedreig om die gebied te verlaat,” het Myburgh bygevoeg.

Beamptes het tydens die operasie beslag gelê op drie vuurwapens, ammunisie, twee petrolbomme en verskeie gevaarlike wapens soos pangas en messe.

Die 40 verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn op verskeie aanklagte, waaronder sameswering om misdaad te pleeg en opsetlike saakbeskadiging.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep mense het Maandagoggend die polisiestasie in die Jouberton-nedersetting in Klerksdorp bestorm. Hierdie groep, wat na bewering lede van ʼn plaaslike bende is, het polisiebeamptes daarvan beskuldig dat hulle met lede van ʼn ander bende konkel.

Intussen is twee verdagtes Dinsdag omstreeks 15:30 in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. “Polisiebeamptes op patrollie het ʼn Chevrolet-bakkie met drie insittendes voorgekeer. Die persone het van die toneel gevlug, maar beamptes kon twee aankeer. Toe die voertuig deursoek is, het beamptes op die vuurwapen en ammunisie, ʼn petrolbom, petrol en klippe afgekom. Die twee verdagtes verskyn Donderdag in die hof.”

In ʼn onverwante voorval is nog ʼn man Dinsdag in hegtenis geneem toe hy by die polisiestasie herken is as ʼn persoon wat deelgeneem het aan ʼn aanval op Jouberton-polisiebeamptes die vorige dag. Hy staan tereg op aanklag van poging tot roof en aanranding. Hy sal ook Donderdag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn.

“Die situasie in Jouberton is tans kalm en die ondersoek duur voort,” het Myburgh gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ovelia ·

Ek prys die polisie vir hul goeie werk. Ongelukkig is daar ook maar vrot appels tussen hullr

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.