40-jarige vas oor juffrou se moord

Argieffoto

ʼn 40-jarige verdagte sal na verwagting Maandag in die Mogwase-landdroshof in Noordwes verskyn in verband met die moord op ʼn onderwyseres.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, het gesê buiten ʼn aanklag van moord op Khumontle Mokgosi, staan die verdagte ook tereg op aanklagte van diefstal en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Die man is Vrydag in Dinokana buite Zeerust aangekeer. “Hy is tydens ʼn misdaadintelligensie-operasie in hegtenis geneem. Hy het die oorledene se bankkaart in sy besit gehad asook items wat onlangs gekoop is, soos klere, ʼn motorbattery en alkohol.”

ʼn Voorlopige ondersoek het onthul dat Mokgosi se bankkaart gebruik is om kontant uit ʼn kitsbank in Northam en Zeerust te onttrek. Beamptes het ook Mokgosi se twee selfone opgespoor.

Die onderwyseres se liggaam is op 29 Junie gevind in ʼn huis wat sy gehuur het in Magong Village naby Mogwase. Haar bure en lede van die skoolbeheerliggaam het ondersoek ingestel toe sy nie vir werk opgedaag het nie. “Mokgosi se hande en voete was vasgebind. Sy is vermoedelik verwurg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johanf ·

So tragies, as jy lees is dit net moord….. My simpatie aan die familie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.