40% van leeuwelpies vrek op teelplase – verslag

(Foto: Four Paws)

Die internasionale dierebeskermingsorganisasie Four Paws het Dinsdag ʼn verslag bekend gemaak wat skokkende feite bevat oor die wreedheid wat met die teel van groot katte op leeuteelplase gepaard gaan. In dié verslag, getiteld The Vicious Cycle, is dit duidelik dat die meerderheid van tier-, luiperd- en leeuwelpies vrek en in onmenslike toestande aangehou word. Die haglike omstandighede waaronder werkers op sulke plase soms gebuk gaan, word ook onder die loep geneem.

Die organisasie wil met hierdie verslag ʼn stokkie voor die teel van groot katte op teelplase steek en standpunt inneem teen die lyding en mishandeling wat met die bedryf gepaard gaan.

Daarom het die organisasie ʼn petisie begin en beoog om 100 000 handtekeninge te kry, wat dan aan pres. Cyril Ramaphosa en die departement van omgewingsake voorgelê sal word. Met dié petisie wil die organisasie die regering vra om ʼn verbod op die teel van groot katte op teelplase te plaas.

Die organisasie is bekommerd oor die toename in die teling van groot katte, waaronder hoofsaaklik leeus, tiere, luiperds, jagluiperds en verskeie eksotiese katte. Hy sê die bedryf word nie altyd behoorlik gereguleer en gemonitor nie.

Volgens die organisasie se verslag word tot 12 000 leeus op sowat 366 leeuteelplase in die land geteel. Dit is omtrent drie keer meer as die aantal leeus wat wild rondloop. Die leeus word vir verskeie redes geteel – toeristeaantreklikheid, trofeejag of vir die handel van pelse, tande en karkasse.

“Die katte kan nie sommer in die natuur vrygelaat word nie omdat hulle reeds mak is en nie aangepas of sterk genoeg is om in die natuur te oorleef nie,” lui die verslag.

‘Mishandeling’ van diere

“Plaaseienaars stel belang in die wins wat hulle maak, ongeag die lyding en mishandeling van die diere,” lui die verslag.

Die organisasie lig op grond van gevallestudies in die verslag uit dat daar op talle van die teelplase nie behoorlike voeding en gesondheidstoestande bestaan nie.

ʼn Groot kommerpunt wat uit die verslag geblyk het, is die hoë vrektesyfer onder welpies op kommersiële teelplase. Altesaam 65% van tierwelpies en 50% van luiperdwelpies vrek op dié plase, terwyl net 60% van leeuwelpies oorleef.

Die verslag dui aan dat die leeus in elke fase van hul lewe vir wins uitgebuit word. Leeuwelpies word dae na geboorte van die wyfies weggevat om sodoende die wyfie in ʼn intensiewe teelsiklus te hou. Wyfies kan tot drie werpsels per jaar baar. Wyfies in die natuur kry slegs een werpsel in twee jaar se tyd.

Die welpies word met die hand grootgemaak en kry só nie altyd die nodige voedingstowwe in nie en word binne ʼn maand beskikbaar gestel aan besoekers om te vryf en voer. Sodra die welpies groter word, kan besoekers ook met hulle rondloop of foto’s neem.

Volgens die verslag verloor die leeus op die ouderdom van twee jaar hul ekonomiese waarde in die toerismebedryf. Hulle is dan te gevaarlik om in mense se teenwoordigheid te wees. Hulle word dan vir teeldoeleindes aangehou, verkoop aan ander telers, gejag vir pret, beskikbaar gestel vir trofeejag of geslag vir hul karkasse. Luidens die verslag word karkasse verkoop en veral vir tradisionele medisyne gebruik.

Uitbuiting van werkers

(Foto: Four Paws)

Die organisasie sê alhoewel die teelbedryf werk vir sowat 379 werkers in die land skep, is die werkstoestande op teelplase nie altyd gunstig nie. Werkers se lewens word in die meeste gevalle in gevaar gestel en telkemale is daar nie die nodige veiligheidsprotokolle in plek nie.

Die verslag dui aan dat werkers soms ook in vuil toestande moet werk wat daartoe kan bydra dat hulle oordraagbare siektes kan opdoen. Dit is veral te sien wanneer werkers gereeld met karkasse in aanraking kom.

Nog ʼn kwessie wat die verslag uitlig, is dat werkers meestal onder die minimum loon betaal word –  tussen R2 000 en R3 000 per maand vir ʼn werkweek van tussen 70 en 85 ure. Meestal is daar geen dienskontrak of jaarlikse vasgestelde verlof of siekteverlof nie.

Na aanleiding van die verslag eis die organisasie dat:

  • die departement van omgewingsake ingryp en die teelbedryf behoorlik ondersoek en wetenskaplik assesseer. Dit is om vas te stel wat die impak van handel in leeukarkasse op die bevolking van wilde leeus is;
  • die departement die nodige gesondheidstandaarde daarstel en met wetgewing reguleer om die mishandeling van groot katte te voorkom;
  • die departement van arbeid ondersoek sal instel en wetgewing in plek kry om werkers op teelplase te beskerm;
  • ʼn verbod op die interaksie tussen groot katte en mense geplaas word; en
  • die teel van inheemse en eksotiese groot katte op teelplase uiteindelik uitfaseer en daarna heeltemal verbied word.

Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Dit is net hoe mense is dit is n skande hulle hoort in die natuur daar waar god hulle gesit het.

Jacques

Daar is ‘n wesenlike verskil tussen WETTIG en ETIES. En sodra daar gepoog word om wetgewing en/of regulering daar te stel is die eerste koorgesang dat werksgeleenthede verlore sal gaan. Dit geld vir alle soorte bedrywe, nie net met diere nie.

johanf

VERBAN die Telery van enige roofdier, hulle hoort in die natuur,…..

Phillip

Dis ook nie al die plaase nie . Nou word almal met die selfe kam geskeer . Ek weet van plaase in Brits wat Piuk is en die leeus is vet en gesond . So as een appel vrot is dink almal is vrot nie GRRRRRR.

FBS

n Mens lees die rubriek dan wonder jy wie is die mense wat die leeus en hulle werkers so n harde tyd gee. Hoekom noem die skrywer van die sprokie nie net die name van die betrokke individue nie. Ek is dood seker die Leeu Telers vereniging sal dadelik optree teen diegene. Die opmerking die diere hoort in die natuur, waar is die natuur. Hoekom nie n bietjie dieper delf en kyk waar in Afrika is daar nog vrylopende leeus, en sommer wat is hulle getalle. As dit nie vir die Suid Afrikaanse telers was nie, was daar nie meer… Lees meer »