400 000 doen aansoek om studiehulp

naledi-pandor

Naledi Pandor. Foto: Flickr/GovernmentZA

Meer as 400 000 voornemende studente het aansoek gedoen om hulp by die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) vir 2019.

Aansoeke het amptelik op 30 November gesluit, maar is tot Sondag 2 Desember verleng, sê Naledi Pandor, minister van hoër onderwys en opleiding.

“Ek is ingenome dat die aansoekproses vir 2019 vlot verloop het ten opsigte van stelsels, die aansoeke wat ons ontvang het en gebruikerservaring,” sê sy.

Die huidige akademiese jaar het moeilik begin toe talle uitdagings die NSFAS in die gesig gestaar het. “Dit het die afhandeling van besluite oor finansiering, die agterstand van 2017 se akademiese jaar, niebetaling en vertraging van betaling van toelae en tekortkominge in die oordra van data tussen die skema in onderwysinstellings ingesluit,” sê Pandor.

Omdat lank gesloer is om dié “uitdagings” op te los, is die skema in Augustus 2018 vir 12 maande onder administrasie geplaas, toe dr. Randall Carolissen as administrateur aangestel is.

Pandor sê sy het hom opdrag gegee om veral na twee probleemgebiede te kyk: eerstens die afsluiting van die 2017- en 2018-finansieringsiklus. Dis om seker te maak dat al die studente wat vir die beursskema in aanmerking gekom het, bevestig is vir finansiering en hul toelae ontvang het.

Tweedens moes Carolissen doeltreffende planne vir die 2019-finansieringsiklus in werking stel in sameweking met universiteite, kolleges en die departement om seker te maak aanstaande jaar se finansiering verloop vlot.

Pandor sê Carolissen het “ʼn sterk span” aangestel om hom by te staan. “Die omkeerstrategie vir uitstaande uitbetalings vir die huidige jaar het daartoe gelei dat meer as R3,6 miljard aan instellings betaal word en nog R10 miljard ontsluit is by universiteite en kolleges sedert die aanstelling van die administrateur.”

Sy sê die aansoeke vir volgende jaar het goed verloop. “Meer as 400 000 aansoeke is tussen die begin van die proses op 3 September en die sluiting op 2 Desember ontvang.”

Nandor sê 34 413 aansoek is van Sassa-begunstigdes, wat outomaties vir geldelike hulp van die skema in aanmerking kom.

Die meeste aansoeke (91 523) was uit KwaZulu-Natal en verteenwoordig 45% van die leerders wat hul matriekeindeksamen in die provinsie geskryf het. Die minste aansoeke (2 573) is uit die Noord-Kaap ontvang en verteenwoordig net 18% van die matrikulante.

Die NSFAS is reeds besig om die aansoeke deur te werk. Pandor sê tydens dié proses sal studente wat nie al die nodige dokumente opgelaai het nie, genader en versoek word om dit wel te doen.

Pandor sê die skema sal suksesvolle aansoekers begin Januarie per SMS in kennis stel. Finansiering word eers beskikbaar gestel nadat studente suksesvol aan ʼn tersiêre instelling geregistreer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wonder nou ·

WAHAHAHAHAHAHAHAHA…….kom nou , kom nou. Ek wil SOOOOO graag sien hoe julle dit nou wil reg kry. ” Free education ” – LMGA

Sandra Coetzer ·

Ek vra myself af hoeveel van daardie 400 000 werklik ernstig is om te studeer, en hoeveel met ‘n ander agenda ‘studente’ wil wees.
Ek stel voor dat slegs studente wat met beurse studeer, verbied word om aan enige protes aksies deel te neem. Die beurse moet opgeskort word wanneer hulle oortree.

Colleen ·

Easy come, easy go. Hulle dop en kry maar net weer hulp en kinders wat presteer moet maar sukkel om te betaal.

Alida ·

Net 100 000 wil regtig studeer die ander 300 000 soek bly en eetplek.

E* ·

Dit ís ‘n geweldige problem die “free education”, ons woon naby ‘n student akkomodasie area in Pretoria. Die student dink die geld uit en bemors die hele buurt met drankbottels, hulle gooi jou huis met die bottels en indien jy waag om jou tuin water te gee (met boorgat water) dan ruk hulle jou sproeiers uit ens. ons was nou genoodsaak om ons eindom te verkoop as gevolg van hulle wangedrag. Nou wil hulle nog meer geld in ‘n student bele wat nie ‘n benul het van waarvoor die geld werklik daar is nie… Only in SA!

David ·

Studiehulp is belangrik vir baie studente, en ja, daar is studente wat dit misbruik.

Wat my hinder is dat, toe ek laas insae hierin gehad het, studente op rasse kwotas toelating kry tot Universiteit. Iemand van die regte kleur kan toelating kry met slegter punte as iemand wat die verkeerde kleur is, omdat die kwota vol is. Hoe hou mens die standaarde hoog as jy met ‘n klomp slegte presteerders sit? Druip jy almal of verlaag jy die standaard, sodat genoeg studente slaag?

Koos ·

Hulle studeer om bestuurders te word, want werk sal hulle nie. Die tendens is duidelik sigbaar huidiglik is hulle nie eers instant om riool te be stuur nie

waarheid ·

Daar sal verseker ‘n paar wees wat dit net vir kosgeld wil gebruik.

Adam ·

Kyk gerus na die KZN statistiek. Ongeveer 45% van matrikulante doen aansoek om universiteit toe te gaan. Dit is ‘n reuse probleem. Waar is die vakmanne en die wie se opleiding meer prakties van aard behoort te wees. Dit sal natuurlik help om kollege’s, Technikons ens terug te bring.

Andre ·

Wat Pandor gerieflikheidshalwe verswyg, is dat wanbetalings deur studente meer as R34 biljoen beloop … biljoen ja, nie miljoen nie.

Judge Dredd ·

400 000 X R40 000/jaar = R16 miljard.
Dit sluit net eerste jaar aansoekers in. Die wat alreeds NSFAS het moet ook bereken word.

Dan wil bankrot SA nog nasionale gesondheidsorg ook instel, en ons het die alreeds bankrot SOE’s.

En dan wil Cyril/ANC/EFF nog peuter met grondonteiening.

Iets se vir my SA se ekonomie gaan ineenstort binne die volgende 5 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.