43 dood, 600 beseer in tsoenami

[OPVOLG] Die dodetal van die tsoenami het intussen aansienlik gestyg. Lees die opvolgberig hier.

(Foto: ANA)

Minstens 43 mense is dood en sowat 600 beseer ná ’n tsoenami in Carita, Indonesië. Dit word vermoed dat dié tsoenami deur ’n vulkaanuitbarsting veroorsaak is.

’n Golf het Saterdagaand dié land getref waarna ’n watermassa die binneland ingestroom het. Dertig huise, nege hotelle en 10 voertuie is in die vloedgolf vernietig.

Volgens ’n plaaslike rampagentskap is strate gevolglik oorstroom gelaat.

’n Sosiale mediagebruiker van Noorweë skryf op Facebook dat hy besig was om foto’s van die vulkaan te neem toe ’n groot golf skielik die strand oorstroom en die binneland getref het.

“Die volgende golf het in die hotelgebied gebreek. Ek kon daarin slaag om met my gesin deur bospaadjies en dorpies na hoër grond te vlug waar ons deur die plaaslike mense versorg word. Ons is gelukkig ongedeerd.”

(Foto: ANA)

Volgens die plaaslike rampagentskap het die Pandeglang-streek van die Banten-provinsie in Java veral kwaai deurgeloop. Sowat 33 van die 43 sterftes is in Pandeglang aangemeld aangesien dié streek Ujung Kulon Nasionale Park asook talle gewilde strande insluit.

In die stad Bandar Lampung in die suide van Sumatra, is honderde inwoners genoodsaak om na die plaaslike goewerneur se kantoor in die stad te vlug.

Volgens wetenskaplikes van die land se agentskap vir meteorologie en geofisika is die tsoenami moontlik veroorsaak deur ondergrondse grondverskuiwings ná die uitbarsting van Anak Krakatau, ’n vulkaniese eiland wat jare gelede deur die nabygeleë Krakatau-vulkaan gevorm het.  Hulle noem ook dat getygolwe deur ’n volmaan veroorsaak kan word.

Die vulkaan, wat die Indiese Oseaan en Java-see verbind, het sowat 24 minute voor die tsoenami uitgebars, sê die agentskap.

Die vulkaan, ongeveer 305 meter hoog en 200 kilometer suidwes van die hoofstad Jakarta, bars al sedert Junie vanjaar uit. Owerhede het gevolglik in Julie aangekondig dat niemand binne twee kilometer van die krater mag kom nie.

(Foto: ANA)

Gegar Prasetya, medestigter van die Tsoenami-navorsingsentrum in  Indonesië, sê die golwe is waarskynlik veroorsaak toe ʼn groot deel van die vulkaan se sykant meegegee het. Hy verduidelik dat dit moontlik is vir ’n vulkaniese uitbarsting om grondverskuiwing bo die grond of onder die see tot gevolg te hê, wat albei ’n tsoenami kan veroorsaak.

“Eintlik was die tsoenami nie só groot nie,” sê Prasetya. “Die probleem is dat mense geneig is om alles naby die kuslyn te bou.”

Meer as 2 500 mense is in September vanjaar oorlede ná ’n aardbewing en tsoenami die stad Palu op die eiland Sulawesi, oos van Borneo, getref het.

Owerhede vermoed dat die dodetal deur die loop van Sondag sal styg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.