43 ‘dronkbestuurders’ by een padblokkade aangekeer

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Argieffoto Foto: stevepb, Pixabay

Verkeersbeamptes in Kaapstad het oor die naweek 43 persone voorgekeer wat na bewering onder die invloed van alkohol bestuur het. Dit is die grootste groep motoriste wat nog ooit in ʼn enkele padblokkade aangekeer is.

Die padblokkade is Sondagaand in Spineweg in Mitchell’s Plain gehou, het die stad Kaapstad Maandag in ʼn verklaring gesê.

“Onder die persone wat in hegtenis geneem is, was ʼn polisiebeampte en ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag,” het JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit gesê.

Smith het gesê hy is besorg oor die toename in dronkbestuurvoorvalle. “Daar was al voorvalle waar tot 25 persone by ʼn enkele padblokkade aangekeer is, maar nog nooit iets soos hierdie voorval nie,” het hy bygevoeg. “Dit is kommerwekkend hoe algemeen dronkbestuur is. Ons het ʼn drankprobleem in Suid-Afrika, maar ons ignoreer die probleem en laat toe dat dronkbestuurders rondry totdat iemand wat ons ken en liefhet ʼn statistiek word.”

Hy het gesê 33 boetes is ook by die padblokkade uitgereik vir ander oortredings.

Nog 17 persone is Saterdagaand in hegtenis geneem nadat hulle onder die invloed van alkohol bestuur het. Ses van die motoriste is in hegtenis geneem tydens ‘n operasie wat fokus op onwettige straatrenne in Seepunt. Altesaam 320 boetes is uitgereik.

Die stad het ook ‘n verdere 753 boetes uitgereik, 16 taxi’s geskut en beamptes het ses persone in hegtenis geneem in verband met gesteelde goedere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul ·

Dankie Stad Kaapstad. Julle is super. Jammer julle kon dit net in een straat in die Kaap doen. In die woonbuurte waar mense party tot watter tyd gaan dit net so lekker. Hou so aan en probeer meer blokkades gelyktydig hou

Johan ·

Ek was die naweek in die Kaap en kon nie glo hoeveel alkohol verbruik word en dan huistoe ry vir kilometers.
Al wat in SA sal werk is ‘n zero toleransie vir alkohol.
GEEN alkohol as jy agter ‘n stuurwiel inklim nie.
MAAR die hogeres soos Tony Yengene se hofsaak word vir jare uitgerek.

neelsie ·

Dan soek hulle nog na die oorsaak van padsterftes , padwoede en, en ,en….
ZERO drank vir motorbestuurders!!

Eduard ·

Ek is in PTA padwoede en padsterftes kom meer onder nugter mense voor. Ek stem saam drink en bestuur is n “BIG NO NO” dis net vir my snaaks dat nugter mense hulself slegter gedra as mense wat onder die invloed is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.