43 gemeenskapsradiostasies sluit; optog kom  

Argieffoto.

Die Nasionale Gemeenskapsradio Forum (NGF) beplan ʼn protesoptog op 8 November teen die sluiting van sowat 43 gemeenskapsradiostasies reg oor die land.

Die stasies sluit in Radio Kaap se Punt, The Rock FM in Welkom, Radio Renosterberg in die Noord-Kaap en Franschhoek Gemeenskapsradio. Hierdie stasies het na raming sowat 1 200 mense in diens.

“Ons is tans in die beplanningsfase van die optog, maar ons gaan vandag kennis gee aan die vier instellings wat by die sluiting betrokke is,” sê Thabang Pusoyabone, die NGF se sekretaris-generaal.

Paseka Maleka, woordvoerder van die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa), sê die radiostasies word gesluit omdat hulle lisensies verval het en die radiostasies nie weer die lisensies hernu het nie. “Die besluit om die radiostasies te sluit is nie, soos wat die NGF beweer, geneem om persvryheid en vryheid van spraak af te breek nie. Okosa val ook nie die gemeenskapsradiostasies aan nie. Dit gaan oor wetgewing en regulasies. Die radiostasies voldoen nie aan wetgewing nie.” Okosa sê verder dat hulle slegs 29 radiostasies in hul visier het en dat hulle nie stasies sal sluit wie se lisensies in orde is nie.

Radiostasies skuld R180 miljoen aan verskeie organisasies soos die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die seinverspreider Sentech. Die NGF sê hy het al menigte kere om finansiële hulp gevra en meen die sluiting is ʼn blatante aanval op gemeenskapradiostasies.

“Dit is onregverdig dat die radiostasies gesluit moet word oor geld wat dit aan Sentech skuld, maar die SAUK, wat geld verkwis, kan steeds sy deure oophou en reddingsboeie van die regering af ontvang,” sê hy.

Verlede jaar het Okosa en Sentech 17 gemeenskapsradiostasies gesluit, omdat die radiostaties sowat R35 miljoen aan Sentech verskuldig was. “Die SAUK skuld miljarde rande en kry daardie miljarde rande. Ons is verlede jaar, tydens gesprekke met die departement van kommunikasie, beloof om ook ʼn reddingsboei te ontvang. Ons wag steeds vir daardie geld.”

Die optog sal eerstens by die Media-ontwikkeling‑ en Diversiteitsagentskap in Parktown, Johannesburg, se deur aanklop en dan beweeg na die departement van kommunikasie, wat Okosa en Sentech huisves.

Die optog eindig by Jackson Mthembu, die minister in die presidensie, se kantoor.

Okosa sê in ʼn verklaring  radiostasies is die geleentheid gebied om hul huise in orde te kry, maar hulle het nie daarin geslaag nie. “Dit is dus ons plig om die wet toe te pas en die stasies te sluit, omdat dit onwettig sal wees vir hulle om verder uit te saai,” lui die verklaring.

Pusoyabone beweer dat die NGF ook al met Okosa die uitdagings van die bedryf wou bespreek, maar dat hulle pleidooie geïgnoreer is. “Ons het in Februarie en Maart ʼn brief aan hulle gestuur, maar dit was geïgnoreer. Eers verlede maand het ons van hulle gehoor, en dit was reeds te laat.”

Die nuwe regulasies vir gemeenskapsuitsaaidienste is in Maart vanjaar uitgereik. Okosa sê dit is in die proses om werkswinkels aan te bied om gemeenskapsradiostasies bewus te maak van die nuwe raamwerk. Die eerste werkswinkel is op 18 Oktober aangebied. “Ons het ook in Julie die moratorium op die lisensiëring van gemeenskapsuitsaaidienste gelig en ons het onderneem om ʼn uitnodig aan voornemende aansoekers binne drie maande uit te reik.”

Die uitnodiging sluit ʼn lys van beskikbare frekwensies in elke distrik en plaaslike munisipaliteit in. Die sperdatum vir aansoeke is 31 Oktober.

Die NGF sê egter dat Okosa roekelose besluite neem wanneer dit lisensies aan radiostasies uitreik. “Vat byvoorbeeld ʼn dorp soos Kimberley. Daar is net een winkelsentrum, maar vier gemeenskapsradiostasies. Dit is nie volhoubaar nie en radiostasies kan nie meeding vir regverdige verspreiding van ondernemings in die dorp se advertensiegelde nie.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Jaco ·

Sal interessant wees om die hele lys van radiostasies te sien wat op die lys is om gesluit te word. Kimberley het meer as een winkelsentrum…

Johan ·

Ek weet nie waar kom hulle (die NGF) daaraan dat Kimberley:
1. ‘n Dorp is nie
2. Net 1 winkelsentrum het nie

Gert van Wierdapark ·

Lyk na die reguleerrder wat die kleintjies wil boelie! 702 het vanoggend n woord- verder van Icasa en die voorsitter van radiostasies in die Noord of oos-kaap op die Lug gehad. Met die frustrasies wat die stasies se man geopper het, wil dit voorkom of die stoom-roller styl toegepas word!! Ek sien ook Icasa het die mini-Ster van Kommunikasie in April hof toe geneem oor hul R450 miljoen begroting. M/Media moet tog asb vir ons meer duidelik heid gee oor die rol van Icasa. Wat is hul rol om die hemelhoe selfoon en data tariewe te (probeer) verlaag?

koos ·

Okosa, dis wat ons ‘n vrye mark stelsel noem, maar dis mos ANC beleid om orals in te meng en voor te skryf, sodat sy wil afgedwing kan word.
Maar aan te oordeel van die ANC dame se onderhoud oor die naweek in London, begin ek beter verstaan dat die ANC ringkoppe geen idee het wat rondom hulle aangaan nie.
Nog ‘n vraag, behoort Sentech aan die staat? Indien wel (en dit lyk so vir my) gebruik die staat sy mag om wanbetalers beet te kry. ESKOM behoort ook aan die staat, plaas dat hulle eerder ESKOM geld najaag.

Theresa ·

Hoe baie ry sonder bestuurderslisensies rond en julle worry nou oor ‘n lisensie om uit te saai??!! Jip, prioriteite, prioriteite. Lagwekkend!!

Leon ·

Die SAUK is die regering se blou oog seuntjie want die saai sy propaganda uit en syfer geld deur na die ANC se grootkoppe en vriende. Hulle kan nie toegemaak word nie. Net so Multichoice wat al lankal moes toemaak weens onmedingende praktyke.
Dit is makliker om ‘n klein radio stasie aan te vat as die regering se propaganda masjien.

Arie ·

Die Afrikaanse instellings gaan al hou meer druk kry van die anc regering af, sodra jy Afrikaans praat word jy as ‘n rassis bestempel

Gert van Wierdapark ·

So pas op “radio sonder geld” na n onderhoud geluister wat met n woord-verder van die reguleerder gevoer is. Lekker eensydig gewees, met die ouens wat toe gesluit gaan word, nerens te hoor nie! Dus, GEEN kommentaar van die radio-stasies se vereniging nie – asseblief RSG, doen behoorlike werk, jul help lekker “vreet” aan die Miljarde Rande se reddingsboeie via die belastingbetaler!!!

Vra net ·

Is julle ernstig met die sekretaris se van? Moet hy nie dalk die sekretaris generaal van die Sojabone Raad wees nie,?

Tinus ·

Maar n bankrot SAUK moet met ons belasting geld aan die lewe gehou word. Deel vd ANC Rassisme Regering se plan ! Maak my naar ….

Willeman ·

???????????? …Sentech/Okosa Killed the Radio Star… ????????

Fanie du Preez ·

Ek weier om Etol of Tv lisensies te betaal….julle moet eers bewys die geld wat julle daardeur insamel is nie genoeg vir wat instandhouding regtig kos nie…sovêr bewys julle net korrupsie….jammer man…try maar in 2040 weer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.