43 studente in hof oor universiteit-betogings

Administrasiegebou by die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie (KSUT) Foto: KSUT

Administrasiegebou by die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereilandse Universiteit vir Tegnologie (KSUT) Foto: KSUT

Altesaam 43 studente wat Maandag by die Bellville-kampus van die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie in hegtenis geneem is in verband met oproerige gedrag, het Dinsdag in die distrikshof verskyn.

Die studente is elk op borgtog van R3 000 vrygelaat.

Hulle staan tereg op aanklag van openbare geweld, oortreding van die Wet op Onwettige Samekomste en opsetlike saakbeskadiging.

Die studente se span van twee prokureurs en twee advokate, het landdros Cyril Kroutz gemaan om hulle op ʼn waarskuwing vry te laat, aangesien hulle nie geld het vir borgtog nie. Die span het aangevoer dat, indien die hof borgtog aan hulle toestaan, sal hulle effektief dit van die hand moet wys.

Die landdros het egter gesê hy het R3 000 vasgestel as borgtog vir studente in vorige, soortgelyke verrigtinge, en dit sal nie teenoor hulle regverdig wees of in die belang van geregtigheid wees, om die huidige 43 slegs op ʼn waarskuwing vry te laat nie.

Hy het gewaarsku dat die 43 moet voldoen aan die vyf borgtogvoorwaardes, anders sal die staat die borgtog terugtrek vir diegene wat nie aan die voorwaardes voldoen nie.

Die eerste voorwaarde is dat hulle weer op 29 Januarie volgende jaar in die hof moet verskyn. Hulle mag ook nie weer “hulle voete op die Bellville-kampus sit nie”. Diegene wat in die koshuis bly, moet alternatiewe akkommodasie reël. Hulle is ook gewaarsku om nie studente of die personeel op die kampus te intimideer of in te meng nie.

Die landdros het ook gesê diegene wat wel ander akkommodasie moet vind, en hul persoonlike besittings op die kampus moet gaan haal, moet eers hul prokureurs in kennis stel. Die prokureur sal op sy beurt die ondersoekbeampte kontak om toestemming te kry dat die betrokke student na die kampus mag terugkeer vir dié doel.

Een van die studente het begin huil toe die landdros notas op die hofrekord aangebring het. “Jy’s nou groot, trane is vir babas,” het die landdros aan hom gesê. Hy het die prokureur, Pam Ayanda Mdanjelwar, toestemming gee om die student te troos.

Die studente bly in aanhouding tot hulle weer op 29 Januarie in die hof moet verskyn. Diegene wat wel borgtog kan bekostig, sal vrygelaat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Peet Schabort ·

Wel wel wel, kan prokureurs EN advokate bekostig maar het nie R3000 vir borggeld?
“Fees must fall” behoort ook te geld vir regslui wat jou verteenwoordig.
Een ding wat hulle moet onthou is: “Al streven ik de goede na staat de kwade mij altoos nabij”.
Hier ook té laat vir trane . . .

Dennis ·

Die man stort nou trane. Hoekom nie besin voor jy begin. Wat jy saai sal jy maai. Sluit hulle virewig toe.

swanna ·

Een landros wat nie gemors vat nie en toelaat dat huilende namaksel nie hom beinvloed oor sy besluite nie. Meer sulke mense het ons nodig op die regsbank om sulke optredes kort te vat.

Fanie ·

Ja Peet. Ek stem. As hulle Prokureurs kan bekostig dan kan hulle R3000-00 maar uithaal en wys. En wat van die skade wat daar aangerig is. As ek ‘n Landros was, het ek hulle laat betaal vir die skade ook.
Laat dit vir hulle ‘n les wees.

GES ·

Ek wil nie negatief klink nie maar hier gaan nie veel van kom nie. Êrens gaan iemand die saak opmors en die aangeklaagdes gaan vrygespreek word.

Amanda Le Roux ·

Siestog, nou wil hy/sy huil…. Maar toe hulle geboue beskadig en mede studente geintemideer het, het hulle geskree ”viva”…. Strooi man…. Hulle kan bekostig om op universiteit te wees, prokureurs en advokate te bekostig en nog in die koshuise te bly… Maar nie geld vir borg nie!!!! Hou die spul in die tronk met geen voorregte nie en vat hulle deur die dag onder polisie begeleiding terug na die universiteit sodat hulle die skade wat hulle aangerig het kan hetstel. Hou op om barbare soos koninglikes te behandel…… Die tipe is voor in die koor as dit kom by moord… Begin klein en eindig groot. Miskien dink hulle dis n goeie begin om in die parlement te kom….

ANDRE ·

Vat so katvis ! As jy jou soos n barbaar wil gedra sal jy so behandel word !……………..

Sumari ·

Snaaks hoe almal snot en trane wil tjank as hulle aangejaag het. Ek het bokkerol simpatie met jou valse trane. Dink voor julle iets doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.