443 nou al dood in KZN-vloede

Lede van die gemeenskap help die polisie se soek-en-reddingseenheid met opruimingswerk nadat huise in KwaNdengezi weggespoel het. (Foto: Phill Magakoe / AFP)

Die dodetal van die vloede wat die Suid-Afrikaanse ooskus nou al amper ʼn week lank teister, het tot 443 toegeneem. Die oorledenes sluit ʼn reddingswerker in, wat gesukkel het om asem te haal en per helikopter na ʼn hospitaal geneem is.

Altesaam 63 mense word vermis.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het die media Sondagmiddag toegespreek. Hy sê gure weerstoestande het die soek-en-reddingsoperasies belemmer, maar nooddiensspanne kon weer hul werk Sondag hervat nadat die reën effens skietgegee het.

“Baie van die paaie wat ontoeganklik was, is darem nou oopgestel wat die werk aansienlik vergemaklik.”

Vloedwaters het sedert Maandag verwoesting in Durban gesaai en paaie, hospitale en woonstelgeboue langs die see vernietig. Die meeste sterftes is hier aangeteken en duisende mense is ook dakloos gelaat nadat hul huise weggespoel het, soms met inwoners nog binne vasgekeer.

Die nooddiens Reaction Unit South Africa, wat in en om Durban bedrywig is, het ook reageer op tientalle noodoproepe en reddingsaksies in die gebied.

Een van die nooddiens se helikopters is Sondag ingespan om na die liggame van 10 lede van twee families te soek, nadat hul wonings in Inanda Maandag weens die swaar reën inmekaargestort het. Die slagoffers is deur die Mzinyathi-rivier meegesleur. Altesaam 14 mense was aanvanklik vermis, maar die oorskot van vier van die vermistes is intussen opgespoor.

Maroela Media het vroeër berig meer as 500 skole is tot dusver beskadig – onder meer deur die huidige vloede, asook vorige storms wat die provinsie onlangs getref het.

Bykomende inligting deur AFP.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.