45 mense uit Springs-huis gered

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Sebastiaan Stam/Unsplash)

Altesaam 45 Ethiopiese burgers sonder die nodige dokumentasie is vroeër vandeesweek uit ʼn huis in Springs aan die Oos-Rand gered. Dié mense is glo die lot van mensehandel gespaar.

Ses verdagtes, onder wie ʼn lid van die polisie, is in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê ʼn span bestaande uit onder meer die provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad het Dinsdag op die huis toegeslaan.

Terwyl die Ethiopiërs uit die huis gered is, het ʼn man met ʼn plastieksak die polisie genader.

“Die man het byna R330 000 aan die beamptes aangebied in ʼn poging om hulle om te koop,” sê sy.

“Hy is egter in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op die geld.”

ʼn Voorlopige ondersoek op die toneel het aan die lig gebring dat die eiendom deur ʼn Suid-Afrikaanse vrou besit word en uitverhuur is aan die mense wat na bewering die slagoffers teen hul wil aangehou het.

Die eienaar se seun is ook ʼn polisielid wat verbonde is aan die eenheid vir openbare polisiëring in Springs. Hy bly op dieselfde erf.

“Toe die polisie die perseel deursoek, is ʼn haelgeweer met SAPD-uitgereikte ammunisie in een van die gehuurde kamers gevind. Die polisie het toe die kamer waar die polisielid bly deursoek en nog SAPD-uitgereikte haelgeweerammunisie gevind.”

Die polisiebeampte en sy ma is in hegtenis geneem, asook drie mans wat die huis gehuur het.

Altesaam ses verdagtes is by die eiendom vasgetrek.

Die verdagtes sal Vrydag onderskeidelik in die Brixton- en Springs-landdroshof verskyn waar hulle sal tereg staan op aanklag van mensehandel, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, omkopery en regsverydeling.

Die 45 slagoffers, tussen die ouderdomme van 23 en 50, is in die sorg van hul naasbestaandes toevertrou.

Die jongste inhegtenisnemings volg op ʼn string mensehandeloperasies wat onlangs oopgevlek is.

Inligting oor die beweerde mensehandeloperasie in Springs het aan die lig gekom nadat die polisie verlede maand Abdi Mohammed Adri in hegtenis geneem het. Hy het na bewering vyf Ethiopiërs teen hul wil in ʼn huis in Brixton aangehou.

Adri het sedertdien in die hof verskyn en is tans op borgtog vrygelaat. Hy sal op 28 Februarie weer in die hof verskyn.

ʼn Pakistanse man is ook verlede maand in Polokwane vasgetrek toe hy glo tien buitelanders ontvoer het.

Hoewel dié man reeds in die hof verskyn het, sal hy voorlopig agter tralies bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Albertus ·

Ja Cele, ons moet nie worry, hoeveel va daai 12000 polisie manne is besig met krimenele dinge

Jacques ·

Die vraag is en ek het al in verkeie lande gewerk, het die persone geldige visas en of permitte? 99.999999% seker nie. Dus moet die hele span insluitend al hul onwettige gedinslede maar rustig terug na land van herkoms.

Elize ·

Raak eers ontslae van 12000 korrupte polisielede voordat julle nog 12000 aanstel

JM ·

Dit wil voorkom asof daar nie net by een van die misdaadgevalle polisie betrokke is. Geregsdienaars het ongeregtigheidsdienaars geword! Red ‘n volk!

Martin ·

Een uit drie van alle Suid-Afrikaners is tans werkloos en die land se werkloosheidsyfer is nou die hoogste in die wêreld. Dit is volgens ‘n lys van 82 lande deur ‘n onlangse finansiële publikasie. Werkloosheid in SA staan op 43,2%. Hoe kan SA hulle in die eerste plek toelaat om in te stroom wanneer ons eie mense nie werk het nie. Klink asof hoed Cele hierdie naweek so bietjie moet oortyd insit om dinge “uit te sort”.

Leana ·

Skies as ek reg lees is die mense wat bevry Ethiopiërs en hulle het nie die nodige dokumentasie het om in die land te wees nie, so hoe word hulle in hul naasbestaandes se sorg gelaat?

007 ·

Hul naasbestaandes is tien teen een bevriend met daai polisieman.

Marius ·

Dit wys net weer dat ons saps die beste is , hulle is klaar op die toneel nog voor dit gebeur het.
Fantasties – ne ou hoed Cele???

Heinrich ·

Mensehandel se straf moet drie keer swaarder gemaak word!

Staal ·

Ek verstaan nie hoe die mensehandel werk nie. Hulle is die lot van mensehandel gespaar, maar wat beteken dit? Wat is die “lot”

ONTPS ·

Nou wonder ek of die Mnr. Abdi Mohammed Adri regtig op 28 Februarie gaan opdaag vir sy volgende hofverskyning

Blue eye ·

Nou toe nou. Hier gaan ons alweer hoeveel meer keure moet die Polisie betrokke wees voor hulle besef dat hulle almal korup is. Meer en meer sake kom voor waar julle mense bedroke is te gemaklik om te se jy is geskok cele….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.