45% van ondernemings oorweeg glo afleggings

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Altesaam 45% van ondernemings wat aan ʼn peiling deelgeneem het, oorweeg om hul werkers binne die volgende drie maande af te lê weens die gevolge van die nasionale afsonderingsperiode. Boonop dui 24% aan dat afleggings reeds plaasgevind het.

Dít is van die mees opspraakwekkende bevindinge van ’n telefoniese peiling wat die AfriForum Navorsingsinstituut in die laaste week van April en die eerste twee weke van Mei onder ondernemings op AfriForum Netwerk gedoen het.

Die bevindinge van dié peiling bevestig dat die nasionale afsonderingsperiode ernstige finansiële gevolge vir sake-eienaars veroorsaak. Altesaam 92% van respondente het aangedui dat hulle finansiële verliese voorsien, terwyl die helfte van hierdie 92% aangedui het hulle is die enigste broodwinner in hul huisgesin.

Beloftes van ondersteuning deur die regering realiseer nie. Sowat 28% van respondente het aangedui hulle is op die regering se webtuiste vir finansiële bystand geregistreer, maar tot op hede het hulle geen terugvoer ontvang nie. Slegs 3% van die respondente het amptelike terugvoer ontvang.

AfriForum is tans besig met ‘n petisie om druk op die regering te plaas vir die uitbetaling van staatshulp (byvoorbeeld van die WVF). .

Ongeveer 45% van respondente het aangevoer dat hul primêre onderneming nie aanlyn bedryf kan word nie, terwyl slegs 9% aangedui het dat hul onderneming ten volle aanlyn bedryf kan word. Sowat 22% van respondente het aangedui hul onderneming kan gedeeltelik aanlyn bedryf word.

“Die bevindinge van dié peiling wys duidelik dat die landswye afsondering ingrypende gevolge vir ondernemings inhou,” sê Barend Uys, hoof van navorsing en ontwikkeling by AfriForum. “Die inperking moet dringend opgehef word sodat ondernemings werksaamhede kan hervat en ’n maatskaplike ramp afgeweer kan word.”

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Netwerk, sê die organisasie wil sakeondernemings aanmoedig om in hierdie tyd deel te word van die netwerk. “AfriForum Netwerk is reeds 12 000 ondernemings sterk en gaan steeds van krag tot krag. Ons hoop dat die toepaslike inligting, wat ons weekliks per nuusbrief aan netwerkondernemings stuur, kan help met die uitdagings wat ondernemings tans in die gesig staar.”

AfriForum Netwerk is ’n landwye netwerk waar verbruikers en entrepreneurs mekaar kan opspoor, aanspoor en ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jan

Geen ondersteuning geen genade. Die werkloosheid syfer styg . Hoop net die wittes kyk na mekaar

Sandra

Dis uiters ontstellend. Daar is der miljoene rande geskenk vir hulp vir besighede. Waar is die geld?

JohanR

Daar le nog donker donker dae voorentoe – dankie ANC!