450 kg-man: ‘Hy het sy waardigheid verloor’

Corrie Le Grange. Foto: Verskaf

Corrie Le Grange. Foto: Verskaf

Corrie le Grange (60), die man van Johannesburg wat 450 kg weeg en wie se gesin desperaat op soek was na ʼn mediese instansie wat hom sal behandel, sukkel om al die aandag van die publiek te hanteer.

Shammy Rademeyer, Le Grange se jarelange verloofde, het Donderdag aan Maroela Media gesê hy is ʼn baie trotse man wat verkies om sy persoonlike lewe so privaat as moontlik te hou. “Hy het deur hierdie ding al sy waardigheid verloor. Ons het baie negatiewe reaksie van mense gekry en mense wat hom lelike goed toegesnou het. Ek kan net dink dat ons [rekenaarsagteware] besigheid ook hieronder sal ly.”

Maroela Media het vroeër berig Le Grange was vir dae op soek na ʼn staatshospitaal wat sou kans sien om hom te behandel. Volgens Rademeyer is hy by talle staatshospitale weggewys omdat hulle nie beddens gehad het wat sy gewig kon dra nie. Le Grange is Woensdagmiddag uiteindelik na die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal geneem, nadat hy ʼn versterkte bed by ʼn private maatskappy gehuur het wat hy saamgeneem het hospitaal toe.

Rademeyer het gesê dat haar verloofde aan askites, ʼn seldsame siekte, ly. Askites veroorsaak abnormale ophoping van vog in die buikholte wat lei tot aansienlike gewigstoename en skade vir die organe kan inhou. “Ons het so drie maande terug begin agterkom dat Corrie vinnig baie gewig optel. Ons het hom by die dokter gehad, maar niemand het geweet wat fout is nie. Hy het binne drie maande om en by 200 kg opgetel,” het sy gesê.

Volgens Rademeyer was Le Grange vir die afgelope drie weke in die huis vasgekeer omdat  die gewig veroorsaak het dat hy nie meer self kon loop nie. Hy het sedertdien ook erge pyn ervaar en is vir borspyn behandel toe hy in die hospitaal opgeneem is.

“Die ondersteuning wat ons van sekere lede van die publiek gekry het was regtig ongelooflik. Ons wil baie dankie sê vir elke boodskap van bemoediging en raad wat ons ontvang het en veral vir Emer-G-Med-ambulansdienste wat ons heeltyd bygestaan het,” het sy gesê. “Die grootste dankie gaan aan Linda McKenzie [van die Edenvale-gemeenskapspolisiëringforum]. Ek weet nie wat ons sonder haar sou doen nie. Ek kan nie vir haar genoeg dankie sê nie.”

Rademeyer het gesê Le Grange ontvang tans uiters goeie behandeling en dat hulle hoopvol is dat hy volkome sal herstel.

Lees alle vorige berigte oor Corrie le Grange op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

HENNA ·

SPOEDIGE BETERSKAP Corrie en STERKTE Shammy
Hoop die kommetators ‘slaap’ lekker vannag !!!

Jo-an ·

Baie sterkteCorrie, ons bid vir julle. Sterkte mag jy spoedig herstel. Mense moet begin dink voor hulle praat. Niemand is volmaak nie. Sterkte nogmaals.

Melt Olckers ·

Sterkte en beterskap aan Corrie. Dit is soms moeilik om deur die lewe te gaan met ‘n situasie wat ander mense nie verstaan nie.
Baie gestremdes en mense met siekte toestande word te veel blameer vir iets waarvoor hulle nie eers skuldig is nie.

Giel ·

Sterkte vir julle twee en mag jy spoedig herstel. Al raad wat ek julle kan gee betreffende die negatiewe kommentaar is ignoreer dit maar net. Sulke simple mense kry jy mos maar in die samelewing. Mooi loop en laat weet Maroela hoe jy vorder.

Karen ·

Wens jou ‘n spoedige beterskap toe Corrie en baie sterk aan jou ook Shammy in hierdie baie moeilike tyd.
Ek het deur die vorige artikels se kommentaar gegaan en kon voel hoe ergelik ek raak soos wat ek deur dit lees.
Mense lewer kommentaar sonder dat hulle eers al die feite het.
Ek stem saam, baie mense is oorgewig deur hulle eie toedoen, maar nie almal nie.
So as jy nie uit ‘n feitelike oogpunt praat nie, bly eerder net stil, want al wat jy andersins doen is oordeel en aannames maak.
En dit is gewoonlik ‘n baie pynlike ervaring vir daardie persoon en hulle geliefdes wat die kommentaar lees.

Paula ·

Ja ne, en mense is so vinnig om so te oordeel. As daar eending is wat ek so bitter graag wens is dat mense hul monde in toom wil begin hou en begin dink aan ander mense.

Annie ·

Corrie, word gesond. Fokus nou net op wat belangrik is. Die res sal God uit sorteer. Ek glo vas dat uit slegte dinge kom daar net weer soveel beter dinge! Moenie oor ander bekommerd wees wat lelike dinge te se het nie. Hulle verstaan nie en is baie dwaas om so op te tree! Die Bybel beskryf dit tog vir ons.

rienie ·

Ek stem saam met alle kommentare hierbo, ek was skoon uit die veld geslaan met gister se sommige bitsige kommentaar. Mens spreek jouself nie uit op goed as jy nie weet of verstaan wat aangaan nie. In die proses word mense se lewens en gevoelens geraak. Baie sterkte aan Corrie met sy gesondheid.

Maryna ·

Genade, daar is so baie siektes wat mens nie eens van bewus is nie! Voorspoed met die gesond word Corrie en moenie dat die negatiewe, bitsige mense jou spoed breek nie.

Joe ·

Sterkte byt vas en druk deur sukses sal jou verseker toeval vir n spoedige herstel .

Heidi ·

Baie sterkte met die pad van herstel. Oor die bitsige kommentaar – daar is duisende cyber-bullies daar buite. Hulle skuil agter hulle rekenaars want is te lafhartig om in persoon hulle sê te sê. Hulle lewens is so boring en negatief dat dit op die digitale platforms uitspoel. Hou jy net moed en konsentreer op jou herstel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.