46 matrikulante het by Kaapstad-kollege gekul

Argieffoto

Argieffoto

Altesaam 46 persone van ʼn privaat kollege in Athlone in Kaapstad is skuldig bevind nadat hulle tydens die matriek-eksamen gekul het.

“Die departement het ʼn volledige ondersoek gedoen oor bewerings van afskrywery tydens die nasionale senior sertifikaat-eksamen by die Athlone-kampus van die Stonefountain College,” het Jessica Shelver, woordvoerder van die departement van onderwys in die Wes-Kaap, Maandag gesê. “Die ondersoek het aan die lig gebring dat die kandidate deelgeneem het en gehelp is om nege vraestelle in sewe vakke af te skryf.”

Die departement het elke vraestel wat by die kampus ingevul is, geoudit. Daar is onderhoude gevoer met al die persone, kandidate en onderwysers, wat by die kullery betrokke was. Die vakke sluit fisiese wetenskap (vraestel 1 en 2), lewenswetenskap (vraestel 2), wiskunde (vraestel 1 en 2), besigheidstudies, geografie (vraestel 1), toerisme en Engels huistaal (vraestel 2).

Shelver het gesê die Stonefountain College sal besluit watter sanksies toegepas gaan word op die persone wat skuldig bevind is, aangesien dit ʼn onafhanklike skool is en die departement oor geen jurisdiksie beskik nie. “Die departement se komitee oor onreëlmatighede sal die verslag bestudeer en aanbevelings maak,” het sy gesê. “Die kandidate sal moet wat op die uitslag van die proses en dit sluit ʼn verslag aan die departement van basiese onderwys en gesprekke op ʼn nasionale vlak in.”

Intussen het die skool die hoof afgedank en die bedanking van twee onderwysers aanvaar. “Nog twee onderwysers se kontrakte is gekanselleer,” het Shaheed Shaik, direkteur van Stonefountain College, gesê. “Altesaam vyf onderwysers is tans nie by Stonefountain College nie weens hul beweerde betrokkenheid by die onreëlmatighede.”

Shaik het bygevoeg die skool ondersteun die departement se ondersoek en het ʼn prokureur aangestel om die leerlinge te verteenwoordig en die bewerings en bewyse van die departement te ondersoek. “Talle leerders het egter skuld erken op eksamen onreëlmatighede in beëdigde verklarings wat hulle afgelê het. As ʼn opleidingsinstansie is ons teleurgesteld oor hierdie minagting van protokol en eksamen-etiket deur mense wat in gesagsposisies geplaas is,” het hy gesê.

Stonefountain help diegene wat matriek moet herhaal en is al 10 jaar lank aan die gang.

Lees alle vorige berigte oor die matriek-eksamen op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.