5 dood, 15 kritiek in gru-botsing

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

Vyf mense is dood en nog 15 kritiek beseer toe ʼn motor en ʼn minibustaxi laat Sondagmiddag in Mapleton in Boksburg aan die Oos-Rand gebots het.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-nooddienste, het gesê noodpersoneel en brandbestryders van die Vosloorus- en Wadeville-brandweerstasies is omstreeks 17:45 na die toneel ontbied.

“By ons aankoms op die toneel was die motor in ligte laaie met die bestuurder steeds vasgevang agter die stuurwiel. Reddingswerkers moes die vlamme probeer blus terwyl hulle terselfdertyd meganiese toerusting gebruik het om te probeer om die motoris uit die brandende wrak te kry,” het Ntladi gesê.

Die ongelukstoneel. Foto: Verskaf

“Volgens inligting het die twee voertuie in teenoorgestelde rigtings gery toe die botsing gebeur het. Die motor het onmiddellik vlam gevat en ooggetuies het gesê hulle kon nie daarin slaag om die bestuurder uit die voertuig te kry nie, want hy was onbeweeglik agter die stuurwiel vasgekeer.”

Ntladi het gesê die taxi het op sy dak beland en noodtoerusting moes ook gebruik word om die insittendes uit dié wrak te bevry.

Vyf mense is op die toneel dood verklaar, terwyl 15 ander in ʼn kritieke toestand na verskillende nabygeleë hospitale gehaas is. Die pad is ook gesluit terwyl die EMPD met hul ondersoek besig was en die toneel opgeruim moes word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Landi ·

Alweer n taxi en spoed was beslis hier n faktor…soos gewoonlik is geen padreels nagekom nie en hoekom het ek net n gevoel die taxi het n groot aandeel hieraan. Ek mag verkeerd wees maar uit ondervinding is taxi bestuurders vieslik gevaarlik op die pad

Alida ·

Baie tragies. Natuurlik is dit die taxi se skuld hoe dan nou. Ons sien dit daagliks op ons paaie. Hulle vervoer baie mense en behoort baie meer versigtig te wees.

wilma ·

Ons sien elke dag oppad skool en toe en werk toe hoe onverskillig die Taxi’s ry. Geen respek vir die lewens wat hulle vervoer nie. Geen respek vir ander motoriste en absoluut geen respek vir die padreëls. En daar word absoluut niks aan Taxi bestuurders wat so roekeloos bestuur gedoen nie.

JSG ·

Sal nie sê niks. Eerder ‘n geval van moedeloosheid. Al manier om die malligheid te stop is om die openbare vervoer stelsel te verbeter. Teenoor Europa is ons stelsel nog verder terug as ‘n derde wêreld sisteem.

Piet Pille ·

Stem heelhartig saam met bogenoemde kommentare. Hierdie taxi bestuurders het hul eie reels en niemand of niks sal in hul pad staan.

honourable member ·

Hierdie taxis is besig om hulle eie mense uit te wis. Hulle wil ry soos hulle wil en stop waar hulle wil en maak soos hulle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.