5 dood in 2 ongelukke ure uit mekaar

Argieffoto: ER24

Vyf mense is die afgelope naweek ure uit mekaar in twee afsonderlike ongelukke in Carletonville, wes van Johannesburg, dood en ses mense is beseer.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, het gesê in die tweede ongeluk, Sondag om 03:00 op die R501-pad, het die bestuurder van ʼn voertuig beheer daaroor verloor en het dit verskeie kere gerol.

“Drie mense is vermoedelik tydens die ongeluk uit die voertuig geslinger. Hul liggame is in die pad aangetref en hulle is op die toneel dood verklaar. Een persoon het matige beserings opgedoen en is met ʼn ambulans na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling,” het Van Huyssteen gesê.

Die ander ongeluk het Saterdagaand omstreeks 22:00 plaasgevind. “Twee voertuie het in Blybankweg gebots. Een van die voertuie is in die pad aangetref en die ander een het gedeeltelik in die veld langs die pad gestaan,” het Van Huyssteen gesê.

Twee mense was in een van die voertuie vasgekeer. “Ongelukkig kon daar niks vir hulle gedoen word nie en hulle is op die toneel dood verklaar.”

Vyf mense is op die toneel vir geringe en matige beserings behandel. Die beseerdes is met ambulanse na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die polisie ondersoek die omstandighede en oorsake van albei ongelukke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kleintjie ·

Voertuig rol paar keer en mense uitgeslinger, klink na wetsongehoorsaamheid waar twee kritiese verkeersreels oortree was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.