Die polisie in Dorset buite Lephalale is besig met ʼn ondersoek nadat vyf mense Saterdag in ʼn motorongeluk omgekom het. Onder die oorledenes is ʼn driejarige dogtertjie.
Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Saterdag op die R33 buite Vaalwater plaasgevind.
“Die vyf mense was na bewering op pad van Lephalale na Vaalwater in ʼn wit Ford Figo. Hulle was sowat 30 km buite Lephalale toe die bestuurder beheer oor die motor verloor het en die voertuig gerol het,” het Ngoepe gesê.
Die driejarige kind, ʼn vrou in haar 40’s en drie mans in hul 30’s en 40’s is op slag dood.
Die identiteit van die oorledenes is nog nie in dié stadium bekend nie.
Enigiemand wat die polisie kan bystaan met die identifikasie van die oorledenes kan kapt. Malesela by 082 414 2012 of die Dorset-polisiestasie bel.
WEET IEMAND DALK AL WIE DIE MENSE IS