5 wat by Klerksdorp-hof ontsnap nog soek

Die polisie is op soek na dié mans wat uit die aanhoudingselle van die Klerksdorp-hof ontsnap het.

Die Valke in Noordwes is op soek na vyf mans wat in die Klerksdorp-streekhof ʼn polisielid in die aanhoudingselle met ʼn vuurwapen gedreig en toe ontsnap het.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, het gesê Sibuso Sibeko (40), Tebogo Molefi Ntenchane (35), Bongani Eudwin Mkhwanazi (51), Sithembiso Mthembu (43) en Tshepo Seboko (37) het vroeër vandag in die hof verskyn op aanklagte van gewapende roof, die onwettige besit van vuurwapens, kaping, die besit van gesteelde voertuie en poging tot moord.

“Die vyf beskuldigdes is in November 2015 in hegtenis geneem ná ʼn gewapende rooftog in Wolmaransstad. Die beskuldigdes het glo in die voertuig van die veiligheidsbestuurder by ʼn myn vasgejaag, hom met ʼn wapen gedreig en diamantgruis in die voertuig gesteel,” het Rikhotso gesê.

“Hulle het daarna glo ʼn Isuzu-bakkie by ʼn lid van die publiek gesteel en weggery in die rigting van Schweizer-Reneke. Die voorval is glo op sosialemediagemeenskapsgroepe gedeel en toe inwoners later die gesteelde voertuig met die verdagtes opgemerk het, het ʼn skietery uitgebreek.

“[Die bestuurder] het tydens ʼn jaagtog beheer oor die Isuzu-bakkie verloor en die verdagtes het te voet in ʼn mielieland ingevlug waar inwoners hulle omsingel en aangekeer het.”

Die polisie het die verdagtes daar in hegtenis geneem.

Die saak is na die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad oorgeplaas en die verdagtes is ook met ander sake verbind, het Rikhotso gesê.

“Die vyf het op 17 September in die hof verskyn en is ná die verrigtinge na die aanhoudingselle geneem waar een van die beskuldigdes ʼn vuurwapen uitgehaal en op ʼn polisielid gerig het.”

Die groep het die sel se staaldeur oopgedwing en ontsnap.

Die polisie het gesê ʼn beloning word aangebied vir inligting wat kan lei tot die opspoor van die verdagtes. Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeamptes, Ao. Laurie Lauwrens by 082 339 0766) of Ao. Brian van der Westhuizen by 083 462 3951 bel.

Die publiek is gewaarsku dat die mans waarskynlik gewapen is en as gevaarlik beskou moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ig ·

Wie moes hulle oppas as hulle sulke gevaarlike booswigte is, ek ruik n rot???

Christa ·

Hoe kry hulle dit reg Om te vlug. Hoekom nie geketting of geboei nie.

SjN ·

Inside job, ondersoek die lid, het seker net gemonitor. Hoekom was hy alleen.

skurweberg ·

Kan daar dan nog enige twyfel wees as ‘n mens hierdie tipe berigte nagaan nie

Gert van Wierdapark ·

Dis darem jammer dat toe hul gevang is vir onder meer die onwettige besit van vuurwapens, die wapen(s) skynbaar nie by hul afgeneem is nie, want hoe de hel tower een van hulle toe n wapen op om te ontsnap!!! Miskien het die SAP-lid net foto’s van die wapen(s) geneem en toe n inskrywing in die klagstaat gemaak dat die wapens af-geneem is!? He-he-he!!

Johanna Botha ·

Een stappie vorentoe maar 3 agteruit met die polisie …so ons verloor al die pad !

PieterJohannes ·

Nog ‘n ‘inside job’ en nou is baie mense se lewens in gevaar. Waar is die Valke? Ek sien hulle weet wat om te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.