50 000 boeke gee oud-onnie ‘doel in lewe’

Volgepakte boekrakke en bokse vul byna ses vertrekke in Roza Pretorius (75) se huis. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

“Boeke bied jou die geleentheid om meer as een lewe te leef.”

Só het Roza Pretorius (75) Donderdag by haar huis in Muckleneuk aan Maroela Media gesê, waar sy ʼn versameling van meer as 50 000 boeke het wat sy oor die afgelope twee dekades bymekaargemaak het.

Volgepakte boekrakke en bokse vul byna ses vertrekke in Pretorius se huis – ook haar slaapkamer. En net wanneer Pretorius dink sy het nou die streep getrek, sleep iemand haar saam na ʼn kerkbasaar waar sy dan weer met ʼn motor propvol boeke huis toe keer.

Sy het tot dusver sowat 3 000 boeke uitgesorteer en in alfabetiese volgorde gepak – waarvan die meeste nou te koop is.

Volgepakte boekrakke en bokse vul byna ses vertrekke in Roza Pretorius (75) se huis. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Hoewel Pretorius veral ʼn liefde vir religieuse boeke, digkuns en misdaadverhale het, spog sy met iets van alles in haar versameling, onder meer kinderboeke en outobiografieë, romans, fiksie en nie-fiksie, geskiedenis en fantasie. Sy het ook boeke in verskeie tale, waaronder Afrikaans, Nederlands en Engels.

“Ek het nog altyd ʼn swakheid vir boeke – van kleins af.

“So twintig jaar gelede, toe ek besef ek gaan een of ander tyd moet aftree, het ek begin om boeke bymekaar te maak met die gedagte dat ek almal sou lees wanneer ek ophou werk. Toe my aftrede aanbreek, het die versameling eers posgevat,” vertel Pretorius, ʼn oudkunsonderwyseres en -bibliotekaris by Clapham High School in Queenswood, Pretoria. Tyd om al dié boeke te lees het sy egter steeds nie, daarom dat sy dit nou stuk-stuk verkoop.

Van kleins af ʼn boekwurm

Haar belangstelling in boeke en liefde vir lees is reeds as jong kind geprikkel – akademiese boeke uit haar oorlede pa, ʼn patoloog, se versameling is van haar eerste herinneringe as kind. Haar oorlede ma was ʼn verpleegster en het Pretorius gereeld na die Sterkfontein-hospitaal in Krugersdorp saamgeneem waar sy in die afdeling vir pasiënte met geestesversteurings gewerk het.

Volgepakte boekrakke en bokse vul byna ses vertrekke in Roza Pretorius (75) se huis. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Daar het Pretorius gretig die geskenkte boeke en tydskrifte verslind wat dikwels by die hospitaal afgelewer is. Pretorius se pa is dood toe sy nog baie klein was, en sy was 15 toe haar ma aan kanker oorlede is.

Ná haar ma se dood het Pretorius voltyds in die klooster by St. Ursula’s Convent (nou St. Ursula’s School for Girls) in Krugersdorp gaan woon, waar sy reeds skoolgegaan het. Hier het sy gereeld boeke vir een van die studerende nonne by die plaaslike biblioteek gaan uitneem. Sy het ʼn goeie verhouding met die bibliotekaris en skrywer, wyle Winifred Dashwood, gebou, wat haar toegelaat het om soveel boeke uit te neem as wat haar hart begeer – al was die algemene reël “net een boek per persoon per dag”.

Ná skool het sy by die Universiteit van Pretoria ingeskryf, waar sy BA‑grade in beeldende kunste en biblioteekkunde asook ʼn onderwysdiploma behaal het. Sy het ook inligtingskunde deur Unisa studeer en ʼn loopbaan in onderwys nagestreef. Pretorius het jonk getrou en het drie kinders van haar eie. Haar dogter, Rosemarie, is self lief vir lees en Pretorius bêre graag “moet-lees-boeke” vir Rosemarie vir wanneer sy uit Hongarye kom kuier.

Baie lewens deur boeke

Sy lag as sy nou so na al die boeke in haar huis kyk en sê sy kan eintlik nie glo sy het almal gekoop nie. Pretorius het later besef dat sy haar versameling sal moet verminder, en verkoop nou baie van haar boeke op bidorbuy (Rozabooks).

Sy wil ook plek in haar huis maak om weer te kan skilder.

Daar is egter ʼn paar boeke waarvan sy nooit ontslae sal raak nie – onder meer haar versameling van CS Lewis se boeke – een van die skrywers wat ʼn groot invloed op Pretorius se eie lewe en pad na Christenskap gehad het. Pretorius sê hy is een van die eerste mense wat sy eendag in die hemel sal wil opsoek sodat sy ʼn lang gesprek met hom kan hê.

Roza Pretorius het as tiener ’n hegte verhouding met die skrywer Winifred Dashwood gevorm. (Foto: Mariska Nanni / Maroela Media)

Dan is daar ook The Church Mice deur Graham Oakley en boeke uit die pen van Eugène Marais.

“Daar is sekere boeke wat net magies is. Dis goed wat jy net nie van ontslae wil raak nie, want dit het so baie vir jou beteken.

“Toe ek klein was, het my ma nooit boeke gekoop nie, want sy het gesê dis duur en ons kan dit nie bekostig nie. In ʼn stadium het sy vir my ʼn boek gegee met die naam The Princess and the Goblin deur George MacDonald, maar daai tyd het ek net Nancy Drew en boeke deur Enid Blyton gelees, so ek het dit nie waardeer nie. Mettertyd het ek toe wel die boek gelees – en dit was absoluut magical. Sommige boeke is maar dieselfde ou storie met dieselfde resep, net met ander geure; maar ek onthou alles van The Princess and the Goblin.”

Pretorius beskou haarself as “gelukkig en bevoorreg” om so ’n ryk versameling te hê.

“My boeke gee my ʼn doel in die lewe. Deur my boeke het ek ook al soveel wonderlike mense ontmoet.

“Baie mense het al vir my gesê ‘Roza, kry ʼn lewe’. Maar weet jy wat, ek het nie net een nie – ek het baie lewens. Boeke verryk jou lewe. Ek wil al die ou filosowe, digters en skrywers se werk opsuig soos ʼn spons sodat dit vir altyd deel van my is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Treurwilger ·

Roza Pretorius is dus beslis ‘n geesgenoot!
Sou wat gee om deur haar versameling te toer.
Wonder of Tryna du Toit ook op haar rakke pryk, want dis ‘n soort Africana, na my mening, en onbekombaar.
“Groen Koring” en as ek reg onthou die opvolgende “Goue Gerwe” met Debbie as die hoofkarakter was groot gunstelinge.

Dana ·

Wonderlike strorie. My dogter net so lief vir boeke en wil net nog koop. Al die boekrakke in die huis is egter vol, so ek moes halt roep.

Astrain ·

Kan iemand nie die Tannie help om ‘n gemeenskap biblioteek te begin nie? Ons het een in Hoedspruit. Jy betaal ‘n klein fooi per boek wanneer jy dit uitneem – jy “koop” dit as te ware, bring jy dit terug, kry jy ‘n klein krediet van 20% vd fooi wat jy betaal het korting op jou volgende boeke wat jy uitneem. Wanneer jy nuwe boeke inbring, kry jy een boek per boek gratis. Die tannie maak ‘n geldjies en jy spaar hope geld! Wen-Wen!!!

Oosieoos ·

Ons kan haar help met nog a paar honderd afrikaanse boeke. Hele buurt het by ons kom leen tydens covid

Rocco ·

Enigste verkoper op Bid or Buy (waarmee ek al te doen gehad het) wat die koper ‘n fooi van R30 vra, wat boeke by haar huis afhaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.