50 aanrandingsake geskrap oor polisie se ‘onbekwaamheid’

Argieffoto (Foto: Josh Hild/Pexels)

Die Wes-Kaapse eenheid wat kriminele sake bekyk het tydens die periode 1 Oktober 2020 – 31 Desember 2020 altesaam 139 sake gemonitor wat van die hofrol geskrap of teruggetrek is weens onbekwaamheid van die polisie. Altesaam 50 van dié sake hou verband met geslagsgebaseerde geweld in die provinsie.

Die redes wat hoofsaaklik aangevoer is waarom die 50 sake van die hofrol geskrap of teruggetrek is, was weens die dossier wat nie by die hof was nie (30) en die ondersoek wat nie afgehandel is nie (20).

Albert Fritz, minister van gemeenskapsveiligheid, het gesê die eenheid het ten doel om die departement se mandaat van oorsig oor die SAPD te vervul, soos voorgeskryf deur artikel 206(3) van die Grondwet. Hulle besoek howe in die provinsie en monitor polisiegedrag en doeltreffendheid. Die eenheid berig ook oor sake wat van die hofrol verwyder word weens onbekwaamheid deur die polisie om seker te maak dat dié sake weer op die hofrol geplaas word en die nodige dissiplinêre stappe gedoen kan word.

“Ek loof die beamptes van die eenheid vir hul pogings om oorsig oor die SAPD te verskaf. Tydens die periode onder hersiening was dit moeilik vir die eenheid om toegang te bekom tot howe weens die Covid-19-pandemie, maar hulle het steeds met hul noodsaaklike werk voortgegaan. Hulle het op prioriteitspolisiestasies, ernstige algemene misdade en geslagsgebaseerde geweld gefokus.”

Howe wat deur die periode onder hersiening gedek is, wat die 10 prioriteitsgebiede insluit
NyangaMfuleni
DelftKraaifontein
KhayelitshaMitchells Plain
Philippi-OosBishop Lavis
HarareGugulethu

Getal onbekwaamhede wat by SAPD-stasies geregistreer is in die 10 prioriteitsgebiede: 

 Huishoudelike geweld VerkragtingAanranding met die doel om ernstig te beseerPoging tot moordAanranding
Nyanga1
Delft1
Khayelitsha72
Philippi-Oos11
Harare1
Gugulethu12
Mfuleni
Kraaifontein1122
Mitchells Plain1
Bishop Lavis1

“Sake van geslagsgebaseerde geweld wat onder die eenheid se aandag gebring is, maar nie binne die 10 prioriteitsgebiede val nie, word ook gemonitor,” het Fritz bygevoeg. Onbekwaamhede is onder andere ook in die volgende SAPD-wyke aangemeld: Parow, Samora Machel, Stellenbosch, Lingelethu-Wes, Brackenfell, Ocean View, Riebeeck-Wes, Klapmuts en Kleinvlei. Daar was ook onbekwaamhede in gevalle wat verband hou met die oortreding van beskermingsbevele, statutêre verkragting en seksuele aanranding.

“Dit is uiters kommerwekkend dat die meeste van die onbekwaamhede, wat met verkragtingsake verband hou, in Khayelitsha aangemeld is. Van die verkragtingsake wat gemonitor is, is sake van die hofrol geskrap of teruggetrek omdat die ondersoek nie afgehandel is nie (1) en die dossiere nie by die hof was nie (6).”

Die eenheid het ook op ʼn kleiner skaal altesaam 53 dossiere by 10 prioriteitstasies tussen 15 Februarie 2021 en 19 Februarie 2021 gemonitor. Uit dié sake is die volgende neigings aangemeld:

  • Uit die 53 dossiere was 15 slagoffers minderjarig (tussen 7 en 17 jaar oud)
  • In 23% van die 53 gevalle het die staat Nolle Prosequi-sertifikate (weiering om te vervolg) uitgereik
  • In 17% van die sake wat aangemeld is, het die klaers verklarings teruggetrek
  • In 8% van die gevalle word die saak steeds ondersoek
  • In 7% van die gevalle is daar nie ʼn redelike vooruitsig vir ʼn suksesvolle vervolging nie
  • In 4% van die gevalle was die dossier nie by die hof nie
  • In 4% van die gevalle was die ondersoek nie afgehandel nie.

“Dit is nie genoeg vir my departement om oorsigtelik op te tree en onbekwaamhede van die SAPD uit te lig nie,” het Fritz bygevoeg. “Ons moet hierdie onbekwaamhede met die verantwoordelike partye bespreek en seker maak dit word aangespreek.”

Sy departement het die provinsiale polisiekommissaris skriftelik versoek om kommentaar te lewer oor die sake wat van die hofrol verwyder is. “Die verslag is ingedien vir kommentaar van die provinsiale kommissaris, aan die provinsiale staande komitee oor gemeenskapsveiligheid, teen 30 April 2021. Ek sien uit na die departement se volgende verslag aan die begin van April om die departement verder te lei in sy oorsigtelike rol.”

Enigiemand wat met die eenheid in verbinding wil tree kan ʼn e-pos stuur aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nie Verbaas ·

En nou Cele? Ons in groot afwagting oor volgende stappe. Mooi man. ANC n grap en skande.

Kobus ·

Uiters kommerwekkend. Waar gaan al die onbekwaamhede in ons land eindig…

Nie Verbaas ·

Dit sal nooit eindig terwyl ons liewe ANC in beheer is nie. Bewyse wereldwyd bekend oor hulle korrupsie en totale onbevoegdheid maar op BEE sal hulle aandring.

Hennie J ·

Baie dankie aan hierdie Eenheid wat sake opvolg. Ek wonder hoe lyk die statistiek vir die res van piesangland? Not to worry, hoedman en sithole en dies meer met groot pense en hakskoene woon ywerig begrafnisse by en jaag saam met die hollywood produksiespan rond in blouligbrigades om vrugtediewe te vang.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.