50 mense vorm ketting om man van waterdood te red

Sea rescue, NSRI, Rip current, verdrink,

NSRI. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Minstens 50 inwoners van Port Edward en vakansiegangers in die gebied het vroeër vandeesweek hul kragte saamgesnoer om ʼn man van ʼn waterdood te red.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is Donderdag om 15:00 na Glenmore-strand in KwaZulu-Natal ontbied ná gerugte dat ʼn man besig was om te verdrink.

Nog voordat reddingsdienste op die toneel aangekom het, het die gemeenskap egter besluit om self ʼn noodredding te doen.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, sê mans, vroue, kinders en tieners het almal saam gewerk om die man uit die see te kry.

“Die bystanders het sowaar die ekstra myl gegaan,” sê hy.

Volgens ooggetuies het twee plaaslike inwoners, onderskeidelik 16 en 20 jaar oud, die NSRI se reddingsboeie gegryp en die water ingehardloop toe hulle sien dat ʼn man besig was om te verdrink.

Hulle het die reddingsboeie gebruik om die man se kop bo water te hou en werk daarvan gemaak om by die strand uit te kom.

Intussen het nog ʼn man (28), glo ʼn voormalige lewensredder, ook in die rigting van die slagoffer geswem om hom by te staan.

“Terwyl hulle besig was om stadig maar seker na die strand te swem, het minstens 50 bystanders saamgespan en ʼn menslike ketting tot in die see in gevorm,” sê Lambinon.

“Toe die slagoffer die ketting bereik het, het die mense hom tot by die strand gehelp.”

Met die NSRI en ander noodreddingsdienste se aankoms op die toneel, het hulle ʼn 20-jarige inwoner van Port Edward op die strand aangetref. Die man was oomblikke voor reddingsdienste se aankoms nog in die water, maar het danksy die bystanders die beproewing oorleef.

Hy is op die toneel behandel en na ʼn hospitaal geneem vir verdere behandeling. Hy is sedertdien uit die hospitaal ontslaan en dit gaan goed met hom.

“Hierdie ingrypings deur dapper gemeenskapslede en vakansiegangers het gehelp om die man se lewe te red,” sê Lambinon.

Die NSRI het sedert 2017 verskeie pienk reddingsboeie op strande geplaas om mense te help met noodreddings uit die see. Sedert dit in gebruik geneem is, is 166 menselewens gered, en nie een van die redders is in die proses beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.