50 vas oor wildsmisdade

Argieffoto: viechfisch, Pixabay

ʼn Renostertaakspan het die afgelope twee maande 50 verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op 13 renosterhorings, twee olifanttande en 19 jaggewere.

Die operasie het in verskeie dele van die land plaasgevind, het die polisie Woensdag gesê.

Brig. Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die span het ook beslag gelê op 15 knaldempers, twee pistole, een haelgeweer en 155 patrone. Die verdagtes is tussen 24 en 58 jaar oud.

“Die vuurwapens is na die polisie se forensiese afdeling gestuur vir ballistiese toetse om te bepaal of dit in ander misdade ook gebruik is,” het Naidoo gesê.

“Die verdagtes het in verskeie howe oor drie provinsies heen verskyn op aanklagte wat strek van die besit van ongelisensieerde vuurwapens, sameswering om misdaad te pleeg, die besit van vervalsde goedere, onwettige jag tot die besit van renosterhoring, die besit van beskermde bedreigde spesies en die besit van olifanttande.”

Die polisie in Hoedspruit, Limpopo het intussen Maandag drie verdagtes in hegtenis geneem wat vermoedelik betrokke is by ʼn oorgrensrenosterstroopsindikaat wat met twee sake van renosterstropery in die Hoedspruit-gebied verbind word.

“Dit is nog ʼn groot deurbraak in die stryd teen renosterstropery toe hierdie verdagtes vroeër in Grahamstad in die Oos-Kaap in hegtenis geneem is,” het Naidoo verduidelik. Jabulani Ndlovu (39), Forget Ndlovu (37) en Skhumbuzo Ndlovu (37) het ʼn vuurwapen by hulle gehad wat hulle verbind met meer as 60 sake van renosterstropery landswyd. “Twee van die voorvalle het in Hoedspruit plaasgevind.”

Die mans het in die Hoedspruit-landdroshof verskyn en hul sake is tot 12 Junie uitgestel nadat hulle aansoek om borgtog afgekeur is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jan van riebeeck ·

Hulle kom op die ou einde weg want die justisie neem hierdie misdade nie ernstig op nie , ek neem aan daar is weer iewers korrupsie waar mense in die staat betrokke is

Llewellyn ·

Ek hoop die regstelsel stel nie die renosters, parke en boere teleur nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.