52 beseer in Vrystaat-busongeluk

Die toneel waar die bus op 24 Januarie 2015 naby Harrismith in die Vrystaat omgeslaan het Foto: Netcare911

Die toneel waar die bus op 24 Januarie 2015 naby Harrismith in die Vrystaat omgeslaan het Foto: Netcare911

Minstens 52 mense, waaronder 31 skoolkinders, is Saterdagoggend beseer toe ʼn bus sowat 20 km buite Harrismith in die Vrystaat omgeslaan het.

“Die bus se voorwiel het omstreeks 08:00 gebars en die busbestuurder het beheer verloor oor die voertuig,” het sers. Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die bus het die pad verlaat en in ʼn veld ingery en omgeslaan.”

Volgens Mophiring is die 35-jarige bestuurder van Tshiame naby Harrismith. Hy is ook beseer.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het in ʼn verklaring bevestig die leerlinge was almal tussen 15 en 19 jaar oud. Volgens Mophiring was hulle op pad na naweekklasse by New Horizon School in Harrismith.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het in ʼn verklaring gesê die persone het geringe tot matige beserings opgedoen en is na verskillende hospitale, insluitend Mediclinic Hoogland, geneem.

Mophiring het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van roekelose of nalatige bestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Asjas ·

Hoekom word roekelose en nalatige bestuur ondersoek? Gaan iemand die toestand van ons paaie ook ondersoek? Ons is gister deur soveel slaggate, ongelyke paaie, paaie sonder ‘n skouer ens. ens. ek het nie geweet of die bande gaan hou en ons die huis gaan haal nie! As ons in ‘n ongeluk was, is ons ook aangekla van roekelose of nalatige bestuur???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.