54 klagte teen vermeende Rwandese volksmoordenaar

Fulgence Kayishema in die landdroshof in Kaapstad (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Die staat het nog klagte teen Fulgence Kayishema (62) ingedien. Altesaam 54 aanklagte staar nou al dié vermeende Rwandese volksmoordenaar in die gesig.

Kayishema het Vrydag vlugtig in die landdroshof in Kaapstad verskyn.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is die saak uitgestel sodat die verdediging met sy kliënt kan konsulteer nadat die staat nog klagte teen Kayishema aanhangig gemaak het.

Die staat het aanvanklik Kayishema op twee aanklagte van bedrog en drie van die oortreding van die Immigrasiewet aangekla.

Die staat het die volgende aanklagte op die lys gevoeg: Nege aanklagte van bedrog, tien aanklagte van die oortreding van art. 37(a) van die Wet op Vlugtelinge 130 van 1998, saamgelees met art. 1 van die genoemde wet, en 35 aanklagte van oortreding van art. 49 (1)(a) van die Immigrasiewet 13 van 2002, saamgelees met art. (1) van genoemde wet.

“Die staat het Dinsdagoggend die omvattende klagstaat aan die verdediging verskaf,” sê Ntabazalila.

“Die verdediging het vandag die hof ingelig dat hul kliënt van die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad na die Helderstroom-gevangenis in Caledon oorgeskuif is, wat dit vir hulle moeilik gemaak het om met hul kliënt te konsulteer. Die verdediging het versoek dat die saak uitgestel word sodat hulle met hul kliënt kan konsulteer. Die staat het nie die versoek teengestaan nie aangesien dit in die belang van geregtigheid was dat die saak uitgestel word sodat hulle hul kliënt kon raadpleeg.”

Die saak is tot 20 Junie uitgestel vir konsultasie en vir die verdediging om aan te dui of hulle van plan is om wel om borgtog aansoek te doen.

Maroela Media het vroeër berig Kayishema is einde Mei by ʼn druiweplaas in die Paarl vasgetrek. Kayishema het die afgelope ruk op dié plaas onder ʼn skuilnaam, Donatien Nibashumba, gewoon en gewerk.

Die klagte waarop Kayishema oorspronklik vervolg word, hou verband met sy beweerde aandadigheid in die moord op sowat 2 000 Tutsi-vlugtelinge, onder wie mans, vroue, kinders en bejaardes, by ʼn Rwandese kerk. Hy is sedert 2001 voortvlugtig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kokerboom ·

Wat het die saak met ons te doen?
Hoekom word die boef nie aan sy land uitgelewer vir verhoor!

Marina ·

Die feit dat hy so lank in SA met sy lewe ongestoord kon voortgaan verbyster my! Geen gewete. En hy het geweet hy gaan hier “veilig” wees!

KatjieDeKat ·

Massamoordenaar maar hy wil so vroom daar sit met n Jesus boekie? Maak my sommer naar.

Marina ·

Ek vind dit altyd vreemd dat hierdie moordenaars (wat hul eie mense uitmoor) so rustig met hul lewens kan aangaan? Mens sou dink die hele Afrika soek na hulle… En vir een of ander rede blyk Suid-Afrika n idiliese bestemming vir al wat n volksmoordenaar is, te wees. Dink aan die oud-president van Haiti, Soedan, nou Rwanda en spoedig ook n Rus of twee. Meng jou met die semels, ne?

Papsak ·

Ja ek stem ken hy ooit vir Jesus ek glo nie wat soek hy hier lewer uit na sy land toe laat hy daar gestraf word hoekom hier

JohanR ·

Hoekom glimlag en lag volksmoordernaars altyd? Behalwe nou vir Hitler en Putin wat geboere is as suur gesigte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.