54 leerders glo by skool seksueel aangerand

Argieffoto

Die Gautengse departement van onderwys het Woensdag gesê berading sal aan leerders verskaf word by ʼn laerskool in die provinsie waar ʼn veiligheidswag na bewering 54 leerders by dié skool seksueel aangerand het.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het in ʼn verklaring gesê die beweerde seksuele aanranding by die AB Xuma Primary School in Soweto het aan die lig gekom toe ʼn saak by die Orlando-polisiestasie aanhangig gemaak is. Die veiligheidswag is Maandag in hegtenis geneem en het Woensdag vlugtig in die hof verskyn.

“Dit is belangrik om te noem dat die verdagte se dienste by die skool met onmiddellike effek beëindig is,” het Mabona gesê. Hy het gesê beamptes van die departement is na die skool om die ware toedrag van sake vas te stel, maar het bevestig daar word beweer dat 54 leerders seksueel aangerand is.

“Ons kan bevestig die keuring van wagte by skole word deur die departement van gemeenskapsveiligheid behartig. ʼn Ondersoek is tans aan die gang rondom die aanstelling van die veiligheidswag,” het Mabona gesê.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het gesê die bewerings is ontstellend en teleurstellend. “Dit is betreurenswaardig dat so ʼn voorval by ʼn skool kan plaasvind waar leerders se veiligheid ʼn prioriteit is. Die departement sal geensins bewerings van seksuele aanranding duld nie en het nog nooit gehuiwer om onmiddellik op te tree waar bewerings van hierdie aard as die waarheid bewys is nie,” het hy gesê.

Die departement het leerders aangemoedig om nooit stil te bly oor sulke voorvalle uit vrees vir viktimisering nie. “Leerders moet sulke voorvalle by hul ouers, die polisie of enige ander persoon wat hulle vertrou aanmeld sodat die nodige stappe gedoen kan word,” het Mabona gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Asmain ·

As ek sulke goed lees wil ek in my hande ween…ons kinders is veronderstel om veilig te wees by die skool! Wat word van ons land…

Theresa ·

Ag nee!! Word daar nie meer streng keurings op enige sekureit-/ veiligheidspersone gedoen nie?? Polisierekord aanvraag; persoonlikheidstoetse??? Dan sommer op die koop toe ‘n poligraaftoets. Kinders (en eintlik niemand nie) KAN nie so blootgestel word nie. Skandalig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.