6 000 poste in gedrang as Lonmin-skagte sluit

Argieffoto

Argieffoto

Die platinumvervaardiger Lonmin het Vrydag gesê hy gaan die Hossy- en Newman-skagte sluit en bedrywighede by drie ander skagte opskort, wat 6 000 poste in gedrang sal bring.

Ben Magara, uitvoerende hoof, het gesê die sluiting van die skagte is Lonmin se reaksie op die platinumpryskrisis. “Almal moet korttermyn pyn verduur om moontlikhede vir die langtermyn te beskerm,” het Magara gesê. “Alle kostes, insluitend arbeid, moet verminder word en ek hoop ons formele konsultasieproses sal versagtend wees om werksverliese te minimaliseer.”

Lonmin het in ʼn verklaring gesê die platinumprys het sedert Mei met 14.4% gedaal en die maatskappy toon verliese. Die maatskappy se besigheid sal meer volhoubaar wees ná die skagte gesluit word, en die grootste deel van die werksmag sal gevolglik beskerm word.

Lonmin het 28 000 werknemers en 9 000 kontrakteurs. Ná die sluiting en opskorting sal sewe skagte steeds operasioneel bly.

Die National Union of Mineworkers het die besluit veroordeel, en gesê dit is ʼn “tragedie” vir mynwerkers in Suid-Afrika en dat die vakbond teen enige werksverliese sal stry. “Dit is pynlik dat hierdie mynmaatskappye die besluit om poste te sny só maklik neem,” het die vakbond bygevoeg.

Kumba Iron Ore het verlede week aangedui sy Thabazimbi-myn in Limpopo gaan sluit. Kumba het gesê 800 werknemers en 360 kontrakteurs word hierdeur geraak. Lucas Phiri, NUM se hoofonderhandelaar by Kumba, het gesê dit sal daartoe lei dat tot 8 700 persone nie ʼn inkomste sal hê nie.

Maroela Media het vroeër berig ArcelorMittal, die land se grootste staalprodusent, oorweeg om sy Vereeniging-werke te sluit. Volgens bestuur sal dié sluiting nagenoeg 1 200 werknemers, insluitend kontrakteurs, raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

wanda ·

Ai my hart wil breek, namens almal wat geraak word! Rustenburg se inwoners herstel nog van die vorige stakings…. Ek kan maar net vir julle bid. Die unies moet nie n bohaai wil opskop nie, as dit hulle pas, staak hulle al dood hulle aanhangers van die honger! Ek weet hoeveel wit instansies kos onder almal uitgedeel het, terwyl die swartmag agteroor gesit het!

CHRISTA ·

Waaroor kla die unies nou? Hulle het onwettige stakings begin en gesorg dat dit vir MAANDE voortduur. Vir MAANDE het hulle lede en NIE-lede geen inkomste gehad nie, maar TOE het dit die unies nie gepla nie!!! Hulle is dus nou al daaraan gewoond om nie ‘n inkomste te hê nie, nou gaan dit net FORMEEL ingestel word! Die unies was ook gewaarsku dat werksverlies hulle voorland sal wees as gevolg van die langdurige stakings!!

J.Z ·

jammer die vakbonde klae nou.Hulle is gedeeltelik veranwoordelik vir die probleeme by die myne ,of is hulle gedagtes maar kort,met hulle onwetige staakings het die myne miljoene verloor ,toe het hulle dit nie veroordeel nie.lnteendeel hulle was groot mur.hoe hulle die myne afpers nou moet hulle maar die vrugte maai wat hulle gekweek het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.