6 in hof oor beplande plaasaanval

Die vuurwapens waarop die polisie beslag gelê het. (Foto: SA Polisie)

Ses verdagtes het Maandag in die landdroshof op Vredefort in die Vrystaat verskyn op aanklag van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en poging tot roof. Die hofsaak is voorlopig uitgestel tot 6 Maart om ʼn datum in die streekhof te bepaal.

Volgens Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, is die bende ʼn maand gelede vasgetrek kort voordat hulle op die plaas Goedgedacht, naby Vredefort, sou toeslaan.

Soos vroeër berig het die polisie vooraf inligting gekry oor die beoogde rooftog op die plaas wat deur intelligensie-inligting van boere in die omgewing gestaaf is. Lede van verskeie polisie-eenhede waaronder die honde-eenheid, misdaadrekordsentrum, speurdienste en die intelligensie-eenheid asook boere van die omgewing, het ʼn wit Hilux-bakkie en ʼn rooi Volkswagen Polo voorgelê. Daar is beslag gelê op drie vuurwapens.

Thabang Kwetemtheme (33), Khanyile Hluthiy (33), Justice Gxotiswa (37), Sibuleli Nyokama (50), Bongane Hyoni (25) en Malixole Nompetsheni (39) is in verband met die voorval in hegtenis geneem.

Lt.genl. Baile Motswenyane, Vrystaatse polisiekommissaris, is steeds bekommerd oor misdaad, onder meer die geweld wat in boerderygemeenskappe voorkom. “Saam met ander boere het die polisie daartoe bygedra dat misdaad op plase bekamp word en seker te maak die verdagtes beland agter tralies,” het Motswenyane gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nicky ·

“verdagtes beland agter tralies” ja, vir ‘n maand of twee, want daar was nog nie ‘n misdaad gepleeg nie, net beplan, as hulle uitkom gaan hulle maar net weer voort. Skies, maar ek het nie baie vertroue in ons regstelsel nie. Maar p ‘n positiewe noot, dankie Vader hulle is gekeer voordat hulle nog kosbare lewens kon verwoes.

Johan ·

Wow, dis baie goeie nuus, dankie vir almal se hulp. Weier asb borgtog

Amanda ·

Fantastiese werk, aan almal wat hard gewerk het om hierdie klomp vas te trek. Baie geluk, dis n groot prestasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.